Verhoudings - die spilpunt waarom ons draai
top of page

Verhoudings - die spilpunt waarom ons draai


Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.” (Gen. 2:18 AFR83)


Vier dae voor Kersfees in 2020 stel die Britse regering Covid-regulasies in wat ‘n groot deel van die Britse publiek verbied om Kersfees by hul geliefdes deur te bring. Dit was nadat die Britse premier belowe het dat mense wel hul geliefdes tydens die Covid-pandemie sou kon sien. Kersgeskenke, asook al die Kersgeregte vir Kersdag, is reeds gekoop. Sommige mense het lank voor Kersfees geïsoleer sodat hulle nie dalk Covid-positief sou wees en so oumas en oupas of kwesbare familielede aansteek nie. Hierdie ommekeer van sy belofte het veroorsaak dat baie Britte Kersdag sonder hul geliefdes moes deurbring.


Die seer en teleurstelling om nie Kersfees by geliefdes te wees nie, is oral gevoel – in die mees luukse huise of die eenvoudigste woonstelletjies. Vergete was die groot geskenke en die materiële besittings, waaroor Kersfees soms gaan. Die teleurstelling en hartseer om nie by familie en vriende te wees nie, het net weereens die belangrikheid van verhoudings beklemtoon.


God het ons sosiale wesens gemaak (Gen 1:28) en 'n behoefte aan verhoudings in elkeen van ons geplaas – eerstens met Homself en dan met mekaar. Ons almal het verhoudings met vriende, huweliksmaats, ouers, kinders, kollegas, ens. Sommige vloei maklik en bring baie vreugde, ander moeiliker met meer skurwe kolle en haakplekke. Verhoudings is in essensie waaroor die lewe gaan. Aan die einde van ons lewe is dit al wat oorbly – dit wat in verhoudings ingebou is.


Die belangrikste verhouding is egter die verhouding wat ons met ons Hemelse Vader het. Hy wat 2000 jaar gelede Sy seun aarde toe gestuur het sodat ons in ‘n verhouding met Hom kan lewe. Hierdie verhouding is die grondslag vir alle ander verhoudings. Dit is die meetsnoer, waarmee ek my verhouding met ander mense meet, die bril waardeur ek na hulle kyk. Jesus het met Sy lewe en voorbeeld vir ons gewys hoe belangrik verhoudings is. Ons volg nou in Sy voetspore in ons verhoudings.


Kom ons doen hierdie komende jaar moeite met die verhoudings in ons lewe. Nie net met die wat vir ons spesiaal is nie, maar ook die krimpvarkie verhoudings; die verhouding waaruit jy nie veel kry nie, die vriendin of broer met wie jy nie praat nie. Waar jy meer gee as wat jy ontvang, om slegs in liefde uit te reik en weer te herbou wat afgebreek was.


Above all, have fervent and unfailing love for one another, because love covers a multitude of sins (it overlooks unkindness and unselfishly seeks the best for others). – 1 Peter 4:8 AMP

bottom of page