Weet waarheen jy op pad is
top of page

Weet waarheen jy op pad is


Ek het iewers op Facebook die verhaal gedeel, wat ek raakgelees het, oor ’n kort toespraak, wat Billy Graham in Charlotte, North Carolina gehou het. Dit was kort voor sy 93ste verjaarsdag. Hy het vir die mense van Albert Einstein vertel, wat eendag op ’n trein nie sy kaartjie kon kry toe die kondukteur by hom aangekom het nie. Die kondukteur het egter geantwoord: “Dr. Einstein, I know who you are. I’m sure you bought a ticket. Don’t worry about it.” Toe het hy aangestap. Later draai die kondukteur om en sien vir Einstein op sy knieë. Hy was besig om na die kaartjie onder sy stoel te soek. Hy het teruggestap en vir hom gesê hy hoef regtig nie die kaartjie tesoek nie. Hy het geweet dis dr. Einstein en hy het ’n treinkaartjie. Toe antwoord Albert Einstein: “Young man, I too know who I am. What I don’t know is where I’m going.”


Nadat Billy Graham hierdie verhaal met die gehoor gedeel het, sê hy vir hulle hyself weet ook wie hy is. Maar hy weet genadiglik ook waarheen hy op pad is. Wyse woorde! Dit is lewensgevaarlik om op daardie pad te wees wat een lied as “the road to nowhere” besing. Dit loop nie nêrens heen nie, dit loop na ’n dodelike eindbestemming toe. “Nowhere” is ook op pad na “somewhere!” Jesus leer egter vir ons van die regte pad na die regte eindbestemming in Johannes 14. Hierdie regte pad en hierdie regte eindbestemming is Hyself. Jesus sê in vers 6 Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Hy sê dit direk nadat Sy een dissipel, Tomas, vir Hom gesê het hy weet nie waarheen Jesus op pad is nie. Ook ken Tomas nie die pad soontoe nie. Wel, Jesus is die roete en die eindbestemming, alles in een. Om in Hom te glo, is om op die regte pad saam met Jesus te wees. Dit is om te weet Hy loop al die pad saam huis toe.

bottom of page