Weerkaatsers
top of page

Weerkaatsers


Lees 2 Korintiërs 3:18a


Sekerlik een van die heel mooiste tekste in die ganse Bybel oor die Gees se werk is 2 Korintiërs 3:18. Dit vertel dat jy en ek, wat deel is van die nuwe vryheid wat die Gees bring (vers 17), nou ook die heerlikheid van die Here weerspieël. Daar is nie meer ‘n sluier oor ons gesig om God se heerlikheid vir diegene rondom ons te verberg, soos wat Moses moes doen toe Hy van die berg afgekom het met die Tien Gebooie in sy hand, nie. Hy moes toe die heerlikheid van God vir onkundige mense wegsteek deur ‘n sluier oor sy gesig te trek. Maar jy en ek, wat in die Gees se wind staan en met sy krag vervul is, ons weerspieël nou dag en nag God se heerlikheid. Dis die doel van elke gelowige hier op aarde!


Nee, ons is nie eerstens geroep om getuies te wees nie. Ons primêre roeping is om God se heerlikheid te weerkaats. Ons moet lewende briewe vir Christus wees en lewende weerkaatsers van die Here se glorie. Ons lig moet só skyn dat mense God raaksien en magneties na Hom toe nadergetrek word. Nooit val die klem op onsself nie. Nee, ons is maar net weerkaatsers. Die eer kom God alleen toe. Dis waartoe ons geroep is. Nee, ons het nie ‘n keuse nie. Die sluiers is immers weggeneem. Ons is voltydse God-weerkaatsers!


Gebed:

Weerkaats U heerlikheid in en deur my, allerheilige Heer. Amen.

bottom of page