Wat Tenet ons oor Kersfees leer [Spoiler alert!]
top of page

Wat Tenet ons oor Kersfees leer [Spoiler alert!]


Siegfried Louw skryf in sy nuutste My Lewe nuusbrief oor wat die fliek Tenet ons oor Kersfees leer.
Wat Tenet ons oor Kersfees leer

Christopher Nolan se nuutste fliek, Tenet, het mense aan die gons. Soos met sy ander flieks, durf jy dit nie waag om die fliek te onderbreek vir ʼn glasie water nie. Elke oomblik tel, as jy die legkaart teen die einde wil verstaan.

Verbeel jou jy kan jou eie self van die toekoms vra om jou môre iewers te ontmoet (jou toekomstige self moet dus terug in tyd beweeg) om jou met ʼn moeilike taak te help… Wat sou jy jouself vra om te doen? En hoe sou jou toekomstige self se kennis van wat gebeur het, jou kon help met die taak? Tenet is besig met hierdie speletjie. Dit hou jou kop nogal besig terwyl jy dit kyk. En nóg meer na afloop van die fliek. Daar is drie prosesse gelyktydig aan die gebeur: Die huidige self wat van die verlede af vorentoe beweeg, die self van die toekoms wat terug beweeg, asook die huidige oomblik waarin alles verander word.

Tenet het my wel laat dink oor tyd, God en Kersfees.

Dink net. As Tenet so kan speel met tyd – God kan ook! In advent-tyd dink ons ook aan drie verskillende prosesse wat loop: (1) Jesus se eerste koms met sy geboorte in Betlehem; (2) Jesus se koms vandag in ons harte hier en nou; (3) Jesus se derde koms in die toekoms, waarna ons almal uitsien.

In Openbaring kry ons ʼn kykie vorentoe. Ons sien dat alle tye en geskiedenis uiteindelik in God se hand is. Daar is ʼn “einde” waarheen ons op pad is. Daardie einde is pragtig. God weet reeds hoe daardie einde lyk. Dit het vir Johannes en die mense van die vroeë kerk ontsaglike hoop gegee. God kom vanuit daardie toekoms na ons toe, hier en nou. God weet reeds wat daar gaan gebeur. En met daardie insig, help God ons nou reeds hier.

Ons dink ook met Kersfees aan Jesus se eerste koms. Dit het reeds gebeur. God het Homself met onsself versoen. Vanuit daardie verlede kom God na ons toe en sê: Jy is Myne! Ek het jou Myne gemaak!

God van die verlede en God van die toekoms ontmoet jou vandag. Hier. Nou. Saam skep ons ʼn nuwe toekoms. Advent en Kersfees sê dat die God van die verlede en die God van die toekoms hier en nou deur sy Gees by ons is. Ons verander die wêreld.

Mag jy in Advent en Kersfees 2020 saam deelneem hiéraan. God se toekoms kom na ons toe.


bottom of page