Die marathon van die lewe
top of page

Die marathon van die lewe


Ek het ‘n groot bewondering vir marathonatlete, soos Gerda Steyn. ‘n Mens kan sien dat marathonatlete hulle hele lewenswyse om hulle sport inrig. Ekself hou van oefen en stap graag ver en vinnig. Uit my stappery het ek ook al heelwat lesse geleer.


Ek dink aan die lewe as ‘n marathon, wat ‘n mens hardloop. Iemand soos Gerda Steyn sal vir jou vertel dat sy ‘n gesonde dieet vir volgehoue prestasie moet volg. As Christene is ons geestelike dieet ook baie belangrik. Stiltetyd saam met God, gebed en lees uit die Bybel maak ons sterk. 


Natuurlik is om daagliks te oefen ook deel van ‘n atleet se lewe.  Dit is vir ons as Christene ook nodig om vir die marathon van die lewe te oefen.  Omdat jy jou krag by God kry, moet jy ook in ‘n ritme kom om daardie krag met ander te deel.  Hoe doen ons dit? Deur bemoedigende woorde, voorbidding en ‘n navolgenswaardige voorbeeld.


‘n Afrigter speel ‘n groot rol in atlete se lewe. Hy werk ‘n oefenprogram uit en gee raad aan sy atlete. Ek glo dat die Heilige Gees ons afrigter is. Net soos wat ‘n atleet na sy afrigter moet luister, moet ons luister na die stem van die Heilige Gees, wat ons waarsku teen verkeerde dinge en ons op die regte pad lei. Ons is so gelukkig om ons “afrigter” dag en nag by ons te hê!


Marathonatlete moet gereeld opdraandes uithardloop. As Christene weet ons dat daar ook opdraandes in ons lewens is. Dit is dan belangrik om nie net die groot opdraande voor jou raak te sien en oor môre te dink en daaroor te bekommer nie, maar om doelgerig in die oomblik te leef, treetjie vir treetjie. Ek stap soms op veldpaadjies en moet dan baie versigtig wees as dit klipperig raak. Soms gooi die lewe ook klippe op ons pad - daar kom uitdagings en moeilike keuses en dan moet ons versigtig trap. Dan kan ons soos Habbakuk vir die Here vra om vir ons ribbokvoete te gee om op hoë plekke veilig te loop.


Marathonatlete het ook soms dae, wanneer hulle nie na wense presteer nie. As Christene raak ons ook soms moedeloos en dit voel asof die lewe te vinnig by ons verbygaan. ‘n Atleet sal vir jou sê: Moenie ophou nie, hardloop stadiger of stap en haal asem. Gedurende sulke tye is dit nodig om meer tyd saam met God te spandeer.


Natuurlike hou die meeste atlete van afdraandes.  Dit gaan partykeer lekker en goed in ons lewens. “Free” teen die afdraandes af en haal weer lekker asem. Onthou om dankie te sê vir goeie tye.


In ons lewenswedloop is dit belangrik om Hebreërs 12:1 te onthou: Laat ons die wedloop, wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus…

bottom of page