top of page
Writer's pictureSiegfried Louw

Padlangs


Sommige dae is die mense op die paaie mos net ekstra ongeduldig. Ek kon nog nie agterkom wat die presiese patrone is nie. Aan die begin van ʼn langnaweek is dit ʼn gegewe, maar dit gebeur ook op ander dae. Dan moet jy ékstra konsentreer om rustig te bestuur en daarop fokus dat jy nie meegesleur word nie.

 

So bestuur ek nou die dag op ʼn enkelbaanpad. Ons is almal op pad na die snelweg. Intussen moet ons geduldig ons beurte afwag om die trokke verby te kan gaan. Een bakkiebestuurder het egter ander idees. Sonder waarskuwing of flikkerlig kom hy skielik by drie van ons verbygejaag, waarskynlik in ʼn poging om die swaar voertuig voor ons verby te kan gaan. Die probleem is egter dat dit ʼn blinde hoogte is - daar is ʼn sperstreep.

 

Op die gevaarlikste oomblik verskyn daar toe skielik twee voertuie van voor af. Hulle flikker hulle ligte en swenk wild uit die pad uit.

 

Die bakkiebestuurder druk reg voor my in, sodat ek moet rem. Oombliklik wil ek kwaad word, maar voordat die omgekraptheid in my bors opstoot, gewaar ek die twee mans agter in die bakkie. Gedwee sit hulle. Ek en die een maak oogkontak, maar hy staar dwarsdeur my en my motor. Natuurlik kan ek nie weet wat hulle dink nie. Dit lyk egter asof hulle deeglik bewus is van die situasie waarin hulle hulself bevind. Die gevoel van magteloosheid is duidelik sigbaar op hulle gesigte. Ek wonder onwillekeurig of hulle weet hoe naby aan die dood hulle sopas was. Vervolgens wonder ek of hulle enigsins omgee. Dit lyk asof hulle hulself heeltemal aan die bestuurder oorgelaat het.

 

Vir ʼn oomblik dink ek hoe dit vir hulle moet voel. Die laaste keer wat ek in ʼn vliegtuigsitplek was, raai ek, kom die naaste daaraan. Iemand anders besluit hoe vinnig die tuig moet beweeg, voordat hy die vlerke se flappe verstel sodat ons kan opstyg. Ek het geen sê of relevante kennis nie. Ek kan net sit en toekyk wat met my gebeur, wanneer die metaalbuis waarin ek sit, teen 250km/h begin opstyg.

 

Die aarde beweeg ook teen ongeveer 100 000 km/h rondom die son. Nie ek of jy het enige sê nie. Die spoed waarteen ons sonnestelsel beweeg, is so hoog dat die syfers nie eers iets sê nie.

 

Toe wonder ek oor 2024. Mense sê hulle is moeg en oorweldig. Hulle vertel my dat die spoed waarteen alles gebeur, te vinnig is. Hulle beskryf ʼn lewe waarin hulle nie veel van ʼn sê het oor waar en hoe hulle moet wees nie. Hulle kan net laat gaan en waarneem hoe alles verbyvlieg.

 

So bevind ek myself in verwondering oor die spanning tussen doelbewustheid en “destiny”. Is dit werklik twee verskillende dinge, of is dit twee gesigte van dieselfde ding?

 

Toe die bakkie uiteindelik met sy twee gedwee passasiers by die trok voor my verbygaan, kry ek dit reg om my verwondering op Jesus te rig. Jesus was doelgerig. Hy het doelbewus tyd gemaak vir mense en vir Homself. Hy het uit en uit ʼn sê in sy eie lewe gehad. En tog… tog het Hy geweet dat Hy aan die prosesse van onregverdigheid oorgelewer was. Hy was oorgelewer aan Pilates en die skares. Hy was oorgelewer aan my eie sonde.

 

Dit gee aan my die rustigheid om God vir my “destiny” te vertrou. Ek is oorgelewer aan meer as my eie prentjie. Ek is oorgegee aan God. Terselfdertyd is ek die bestuurder van my eie lewe, waarin die liefde van Jesus my dring.

Comments


bottom of page