Wagwoorde
top of page

Wagwoorde


Lees: Efesiërs 1:14

          Efesiërs 2:4


Ek weet nie van jou nie, maar ek vergeet gedurig my “passwords” vir die bank, Google, mediese fonds, Facebook ens. Dit lei tot groot frustrasie. Ek skryf dit ook nie neer nie, want dit is mos ‘n maklike een wat ek nie gaan vergeet nie. Elke keer wat ek lanklaas op ‘n sekere webtuiste was waar ek my wagwoord nodig het, dan haal die klein vergeet my in! My een vriendin praat van die “Der Dom”- die ouderdom. Soms wil ek met haar saamstem, maar dan dink ek weer: ek is nog nie so oud nie, ek moet kan onthou.


Ons hemelse wagwoord is die Heilige Gees. Hy ontsluit alles vir ons. Sonder die Heilige Gees het ons niemand wat vir ons voor die troon van die Allerhoogste vir ons sondes pleit nie.  Die Here word deur die Heilige Gees bewus gemaak van al ons behoeftes. Hy leef in ons harte en weet van elke ding wat ons doen en dink. Christus het die Heilige Gees aan ons belowe en is deur God aan ons geskenk. Hierdie geskenk veroorsaak dat ons as kinders van die Allerhoogste beseël is. Die Heilige Gees is ook verder die waarborg dat ons die ewige lewe sal ontvang, soos Hy aan ons belowe het. Ons almal wat die Heilige Gees in ons hart dra, sal verlos word soos Christus in Sy woord belowe.


Wanneer ons swaarkry, is die Gees die een wat by God in hemelse taal gaan pleit. Die Gees “skinder” oor ons by God. Hy vertel dat God se kind hulp nodig het. Die wonder hiervan is, dat wanneer ek teen die grond is, en nie meer weet watter kant toe nie, is dit die Gees, wat vir my bid en by God intree. Ek hoef met ander woorde nooit alleen te voel nie. God en die Gees is altyd bewus van my en leef binne my!


Die seël waarmee ek deur die Heilige Gees gemerk word, is die waarborg dat ek die ewige lewe sal erf. Dit is God se merk op ons. Ek is Sy kind. Ek sal nooit verlore gaan of uit Sy hand geruk word nie.

Wanneer jy dus voel of die lewe jou platslaan en jy moedeloos teen die swaarkry van die lewe baklei is: weet een ding, die Heilige Gees is met jou, Hy is die wagwoord, wat die Koninkryk van God vir jou oopsluit. Pleit by die Gees en Hy sal jou gebede in die gebedsbakke voor die troon van jou Vader plaas. Moenie bang wees om die Wagwoord te gebruik nie. Onthou dis die een wagwoord, wat jy nooit kan vergeet nie, want Hy is die wagwoord na die ewige lewe.

bottom of page