Wanneer leiers moet konfronteer…
top of page

Wanneer leiers moet konfronteer…


Konfrontasie en vermaning is eenvoudig deel van ‘n leier se werk. Selfs van uiters goeie en verhoudingsensitiewe leiers is dit waar. Of ‘n spesifieke leier passievol glo in ‘n diensbare leierskapstyl, demokratiese leierskap, pannekoekstyl leierskap, empatiese leierskap of transformasieleierskap, dit maak geen verskil aan die feit dat op die een of ander tydstip, gaan die leier iemand moet aanspreek, teregwys of ten minste konfronteer nie. Die konfrontasie kan wees as gevolg van ‘n spanlid se verontagsaming van die waardes van die maatskappy, of as gevolg van die vlak van toewyding van ‘n sekere persoon, of dalk die bekwaamheid van ‘n persoon. Die een of ander vorm van konfrontasie kan egter nie vermy word nie, nie as iemand leiding gee nie.


Die Bybel het natuurlik heelwat te sê aangaande konfrontasie, veral vanuit die wysheidsliteratuur in die Bybel. Ek dink aan tekste soos Spreuke 15:1, wat lui: ‘n Sagte woord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam. Ook in die Nuwe Testament kan ons kyk na dele soos Jakobus 1:19-20:


My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad te word nie. ‘n Mens wat kwaad doen, dien nie wat voor God reg is nie.


Die groot vraag is hoe lyk hierdie en soortgelyke Bybelse beginsels in ‘n praktiese leierskapsituasie? Hier volg sewe praktiese punt vir wanneer ‘n leier moet konfronteer. Vyf van hierdie punte word deur Dave Ramsey voorgestel en twee hiervan is gebore uit my eie ervaring.


1. Moenie uitstel nie. Wanneer ‘n onvermydelike konfrontasie uitgestel en uitgestel word, het dit ‘n baie slegte impak op die leier, sowel as op die span self. Wanneer iemand ‘n negatiewe invloed in ‘n andersins gesonde span het en dit word nie uitgesorteer nie, dan word die gesonde en effektiewe lede ontmagtig en hulle raak moedeloos. Dikwels begin hulle vir nuwe werk soek, terwyl die oneffektiewe lid salig voortgaan met sy / haar lewe.


2. Begin met die woorde Help my verstaan... Dit help geweldig in plaas daarvan om bloot weg te trek met die uitwys van die fout of oortreding. Vra eerder iets soos “Help my verstaan waar jy met jou standpunt vandaan kom”, “Help my verstaan hoekom jy gevoel het dis nodig om so op te tree”, “Help my verstaan waarom jy gedink het die verlangde uitkoms is nie nodig nie”. Dis ‘n baie meer positiewe manier waarop ‘n mens ‘n negatiewe situasie kan hanteer en dit laat die oortreder voel hulle kan moontlik ook gehoor word.


3. Wees kort, indien moontlik. Dis belangrik om nie uit te kamp op iemand se tekortkoming en aan te hou karring nie. Stel die saak, wys die fout uit en beweeg aan.


4. Wees ongemaklik vir almal se onthalwe. Konfrontasie is ongemaklik. Dis veronderstel om ongemaklik te wees. Enige iemand, wat plesier daaruit put om ‘n ander persoon tereg te wys, is ‘n boelie. Teregwysing moenie vermy word nie, maar niemand is veronderstel om daaruit vreugde te put nie.


5. Praat oor die probleem. Spreek die probleem aan en moenie die persoon afkraak nie. Probeer om te onderskei tussen die twee, alhoewel dit nie altyd eenvoudig is nie. Ken Blanchard praat van die Sandwich-metode. Begin met die positiewe eienskappe van die persoon. Bespreek dan die probleem en sluit af deur die persoon te verseker van sy / haar waarde vir die gemeente / maatskappy.


6. Konfronteer in privaatheid. Ek vra die ander dag ‘n vriend van my, wat vir jare lank suksesvol in die intelligensiediens was, wat sy geheim tot sukses was. Hy was veral bekend daarvoor dat ‘n geweldig verskeidenheid mense van alle kleure se respek verdien het. Sy antwoord was onmiddellik: met gesaghebbende oortuiging: Roedolf, ‘n mens moet net nooit iemand in die openbaar verneder nie. Sy bedoeling was dat ‘n mens maklik iemand se lojaliteit verloor, wanneer jy die persoon voor ‘n spul mense aanspreek. Konfronteer ‘n persoon altyd in privaatheid, waar slegs julle twee teenwoordig is.


7. Wees sag. Mens moet onthou dat wanneer jy in ‘n posisie van outoriteit is, jy altyd besig is om vir mense te leer en te demonstreer hoe om op te tree as ‘n Jesus-volgeling. Dus moet ‘n mens kristalhelder in jou kommunikasie wees, maar dit doen met goedhartigheid, vriendelikheid en met die ander persoon se welstand in gedagte.


Dis een van die mees effektiewe maniere waarop ‘n mens die guns van mense en die maatskappy kan bekom, naamlik om probleme of probleemgedrag te konfronteer wanneer dit nodig is, maar deur dit met integriteit te doen. Dit bring ‘n groot mate van sekuriteit na die mense in die maatskappy en skep spoedig ‘n kultuur van respek.

bottom of page