“Bevoorregting”: Polities verkeerd
top of page

“Bevoorregting”: Polities verkeerd


Ek is bevoorreg. Tot so ʼn mate dat ek elke slag, as ek iemand in ellendige omstandighede sien, met groot hartseer skuldig voel: Die gogo met vier Pick ‘n Pay-sakkies in haar hande en ʼn huilende baba op die rug; die gryskop madala, wat op twee afgeleefde krukke aansukkel, twee kilometer van die staatshospitaal af; die leerder, wat met ʼn kortbroek aan en sonder ʼn baadjie in sig, deur die dik, wit ryp skool toe stap; en die magdom mense wat elke middag vir die bus staan en wag, bekommerd oor of hul minimum loon tot die einde van die maand gaan hou.


Die video “The race of life” vertel iets oor bevoorregting. Moet asseblief nie vaskyk teen die feit dat die naam en inhoud van die video na “white privilege” verwys nie! Dit is ʼn onderwerp vir ʼn ander dag. Die beginsel van “bevoorregting” is op alle bevoorregtes van toepassing en dit is waaroor ek vandag skryf.


Menige bevoorregte persoon beskou die term “bevoorregting” as polities verkeerd. Hulle rebelleer teen enige verwysing daarna, verskaf verskeie redes waarom die woord taboe is en nie op hulle omstandighede van toepassing is nie en voer aan dat hulle eintlik die slagoffers van die nuwe bedeling is. Boonop kry die regering vir net mooi alles die skuld: “Laat die regering hulle beloftes nakom en vir die armes sorg.”


Die feit bly staan dat ons in ʼn onregverdige, genadelose wêreld lewe, waar sommiges meer bevoorreg as ander is – ek verstout my om te sê dat elkeen, wat hierdie skrywe lees, wel meer bevoorreg as menige ander persoon is.


Wat moet ʼn bevoorregte Christen met hierdie inligting maak? Wat het ons Here Jesus Christus met hierdie inligting gemaak? Paulus antwoord die vraag in Handelinge 20:33-35 (The Message): “I’ve never, as you well know, had any taste for wealth or fashion. With these bare hands I took care of my own basic needs and those who worked with me. In everything I’ve done, I have demonstrated to you how necessary it is to work on behalf of the weak and not exploit them. You’ll not likely go wrong here if you keep remembering that our Master said, ‘You’re far happier giving than getting.’”


Die duidelike boodskap spreek vanself: Beide Jesus Christus én Paulus het onder moeilike omstandighede, uit hul eie armoede en in ʼn tyd wat ʼn onbillike, wrede, korrupte regering aan bewind was, steeds vir diegene in nood gesorg.


Om terug te kom na my skuldgevoelens – ook hieroor is die Bybel duidelik: Jesus Christus het God gedank, voordat Hy die brode en vissies aan al die hongeres uitgedeel het. Verder skryf Paulus in 1 Tessalonisense 5: “Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense. Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” Ek moet ERKEN dat ek bevoorreg is, my bevoorregting met DANKBARE GEBED AANVAAR en dit dan met ander DEEL.


En ek moet nooit ophou om in dankbaarheid skuldig en hartseer oor armoede en swaarkry te voel nie, want dan is ek verseker daarmee heen …

bottom of page