Hancock, die evangelie en die aard van liefde
top of page

Hancock, die evangelie en die aard van liefde


Waarom is dit dat soveel mense, wat sê dat hulle in liefde glo, dit nie regkry om liefde volledig te beleef nie? Gelowige pa’s, wat in Jesus glo, kry dit dikwels nie reg om goeie verhoudings met hulle tienerseuns te handhaaf nie. Gelowige base kry dit nie reg om konsekwent liefdevol teenoor hulle mede-kollegas op te tree nie. Wat is dan die probleem? Ek is nie seker nie, maar ek wonder of ons nie soms die aard van ware liefde misverstaan nie.


Baie mense, wat beweer dat hulle liefdevol is, wil dit doen sonder om beheer te wil opgee. Liefde en beheer (of mag) staan dikwels radikaal teenoor mekaar. Selfs Hollywood weet dit. In die fliek Hancock, wat in 2008 vrygestel is, kom hierdie tema nogal sterk na vore. Die fliek handel oor John Hancock, ‘n dronklapsuperheld, gespeel deur Will Smith. Hy beskik oor allerhande supervermoëns, soos bomenslike krag, die vermoë om te kan vlieg en algehele fisiese onkwesbaarheid. Geen koeël kan hom stop nie en hy is onvernietigbaar.


In die helfte van die fliek kom hy egter agter dat hy nie die enigste persoon met superkragte is nie. Hy ontmoet ‘n vrou, Mary, wat oor die dieselfde kragte as hy beskik. Soos wat die verhaal ontplooi, raak die twee verlief op mekaar. Na ‘n ruk kom hulle egter ‘n snaakse ding agter, naamlik dat hulle kragte minder raak en dat hulle al hoe kwesbaarder raak. Hancock het selfs amper sy lewe verloor, toe hy deur ‘n koeël getref is, iets wat voorheen skadeloos van sy lyf af sou wegspat.


Nadat die storie verder ontvou het, kom hulle toe agter dat hulle liefde en intimiteit jeens mekaar hulle beroof van hulle superkragte. Hoe nader hulle aan mekaar leef en hoe intiemer hulle verhouding raak, hoe kwesbaarder raak hulle, totdat hulle krag so sou afneem dat hulle later heeltemal sterflik sou wees. Die keuse waarvoor hulle toe te staan kom, was eenvoudig: Kies vír beheer, mag en krag, téén hulle liefde vir mekaar; of kies vír liefde en verloor al hulle superkragte.


Hoe die draaiboekskrywer dit bedoel het weet ek nie, maar dat hierdie idee, in breë trekke, geweldige ooreenkomste met die boodskap van die Bybel toon, is vir seker. Aan die kruis kies Jesus om al Sy mag as Here en Medeskepper van die wêreld neer te lê. Hy het al Sy “supermagte” as Here en Koning afgelê en die gestalte van ‘n sterwende slaaf aangeneem (Fil. 2:5-11). Aan die kruis het Hy Homself “ontmagtig”. Hier hang Hy magteloos en geheel en al kwesbaar vir die wêreld om te aanskou. Hoekom? Om die mensdom te oortuig van Sy liefde. Liefdesverklarings en mag of beheer gaan nie hand aan hand nie. Die meeste van die tyd is dit eerder ‘n either / or situasie, ‘n keuse vir liefde óf ‘n keuse vir mag. Mense wat verhoudings wil betree deur dit alewig te wil beheer, of dinge afdwing, sal nooit ten diepste beleef om liefde te hê, of om liefgehê te word nie. Dis dalk waarom superhelde, soos Superman en Wonder Woman, se liefdesverhoudings selde uitwerk. Mense moet kies: wil ek Superman wees, of wil ek liefhê.


‘n Diep intieme verhouding verwag van Jesus-volgelinge om foute te kan erken, sonde te bely, jammer te kan sê, gevoelens te kan deel, oor swakhede te kan praat, verslawings te ontmasker, te kan lag én huil, risiko’s te neem en kanse te waag, wat ‘n mens kan blootstel en naak kan laat. Dink waar ons sou wees sonder Jesus se kwesbaarheid.


CS Lewis stel dit dalk die beste:


To love at all is to be vulnerable. Love anything and your heart will certainly be wrung and possibly be broken. If you want to make sure of keeping it intact, you must give your heart to no one, not even to an animal. Wrap it carefully round with hobbies and little luxuries; avoid all entanglements; lock it up safe in the casket or coffin of your selfishness. But in that casket – safe, dark, motionless, airless – it will change. It will not be broken; it will become unbreakable, impenetrable, irredeemable.
bottom of page