Waarheid of nie?
top of page

Waarheid of nie?


Marietjie Joubert skryf in haar nuutste My Lewe nuusbrief oor wat die verskil is tussen die waarheid en 'n leun.
Waarheid of nie?

As ‘n onskuldige klein dogtertjie het ek een middag vir my ma ‘n leuen vertel. Ek het heerlik by maatjies gaan speel en heeltemal van die tyd vergeet. Dit was in veilige tye -dit was nie die probleem nie. Ek het gejok oor waar ek gaan speel het. Toe my ma my uiteindelik opspoor en my by die verkeerde dam se eende vind, was daar groot moeilikheid. Ek onthou hoe ek die aand op my bed gesit en gebid het dat my ma nooit weer so vreeslik kwaad vir my moet wees nie. Ek vra toe vir die Here om my te help om nooit weer te jok nie en Hy het! ‘n Mens moet soms mooi dink voor jy vra! Ek kan nie jok nie, want as ek jok, bloos ek en rooi kolle slaan in my nek uit. Ek mag nooit hieroor kla nie, want my gebed is verhoor.


Ek het dié dag twee lesse geleer. ‘n Mens jok nie, klaar. Tweedens, God verhoor gebede, al is jy hoe klein. Beide hierdie kosbare lesse het al soveel waarde in my lewe gehad. Mense sê hulle moes ‘n wit leuen vertel om hulle uit die moeilikheid te kry of sommer reguit, hulle het ‘n noodleuen vertel.


Wat is die verskil? ‘n Leuen bly ‘n leuen, of dit nou in nood vertel word of die witste wit is, dit maak nie saak nie. Dit is en bly verkeerd.


Eerlikheid moet ‘n lewenswaarde wees. Ek heg persoonlik baie waarde aan eerlikheid en die waarheid. Om eerlik te lewe sluit so baie dinge in. Ek lewe eerlik in my huwelik. My man of vrou ken my rekenaar en selfoon se kodes. Ek jok nie vir my man of kinders nie. Ek vra nie vir my kinders om namens my te jok en te sê ek is nie by die huis nie. Ek beskerm nie my kinders as ‘n onderwyser bel oor huiswerk, wat nie gedoen is nie. Ek leer my kinders om verantwoordelikheid te neem vir dit wat hulle verkeerd gedoen het. Ek vul my belasting eerlik in. My petrolstrokies is ‘n oop boek. Ek steek nie ‘n nuwe rok en bypassende skoene in die kas weg en wanneer my man my vra wanneer ek dit gekoop het, kom die antwoord gladweg: “Dis ou klere, liefie, jy het net vergeet daarvan” nie. Ek glip nie weg by die werk om te gaan koffie drink, inkopies doen of vining ‘n draai by die gimnasium te gaan maak nie.


Die grootste leuen is om vir jouself te jok. Kyk jou vrese en oortredings vol in die gesig. As jy ‘n probleem in jou lewe het, wees eerlik met jouself. Hou op om iets te vermy. omdat dit nie lekker is nie of omdat jy nie die moed het om dit aan te pak nie. As jy byvoorbeeld weet jy moet oefen, doen dit.


Leer jou kinders deur jou eie optrede, dat die waarheid goed genoeg is, dit maak nie saak wat dit is of wat gebeur nie. My ma sê altyd: kierinkies braai - die waarheid kom altyd uit. As dít gebeur, is die moeilikheid gewoonlik groter as wat dit sou gewees het as jy van die begin af die waarheid gepraat het.


Ek lees in Die Boodskap in Efesiërs 4:25: “Moenie vir mekaar lieg nie. Wees eerlik met mekaar…” Meer reguit en duidelik kan ek dit nie vir jou stel nie.


Kom ons let weer ‘n bietjie op oor hoe ons praat, hoe eerlik ons antwoord en of ons hele lewe ‘n oop boek is. Maak eerlikheid een van jou lewenswaardes en leef daarvolgens Leef in eerlikheid en opregtheid voor die Here en alle mense.

bottom of page