top of page
Writer's pictureAlet Gardner

Nuwejaar? Nuwe krag?


Jesaja 40:31

Maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie. - AFR53


Ná twee rowwe jare het ons omtrént nuwe krag nodig om soos met arendsvlerke bo die lewenstorms te kan vlieg en die opdraandes van die onbekende jaar suksesvol te kan aanpak.


Nuwe krag … hierdie is ‘n belofte, wat my deur menige krisis gedra het. Dis natuurlik wanneer ek onthou om op die Here te wag, Hom te vertrou, my oë op Hom te hou. Dis hier waar die woord “houding” vir my nuwe betekenis gekry het, n.a.v. die vliegterm “houding bepaal hoogte”. Vandat die vliegtuig moet opstyg, beheer die vlieënier die hoogte deur die houding (posisie) van die vlerkflappe te stel.


As Christen het ek die voorreg van die Heilige Gees as Medevlieënier op my lewensvlug. Ongelukkig wil ek soos enige oorgretige leerlingvlieënier graag voel ek is in beheer, maar kom beland maklik in ‘n situasie, waar dit nodig is om weer beheer aan die meer ervare vlieënier oor te gee.


Johan* wat raadop was weens ‘n huwelikskrisis, het gou begryp wat dit beteken om beheer oor te gee aan die Heilige Gees, toe hy hierdie voorbeeld hoor. Hy het met ‘n glimlag teruggedink aan ‘n keer wat hy saam met sy 10-jarige seuntjie ‘n lang vlug onderneem het. Hy het van ver af onweerswolke raakgesien en besef dat daar ‘n mate van turbulensie sou wees. Ewe onskuldig het hy gevra: “Boeta, wil jy bietjie oorneem?” Die outjie het met gretige handjies en ‘n ernsige gesiggie die tweede stuurstang geneem. Teen die tyd dat hulle turbulensie tref, het Johan gemaak asof hy aan die slaap geraak het en nie hoor hoedat ‘n klein stemmetjie onrustig vra nie: “Pappa?” Maar Pappa reageer nie. Teen die tyd dat Boeta regtig benoud roep, het Pappa met ‘n glimlag oorgeneem en die krisis was afgeweer.


Net so kan ek, wat as Christen die Heilige Gees as ervare “Medevlieënier” het, daarop reken dat Hy weet hoe, as ek maar net die beheer aan Hom wil oorgee. My houding, my bereidwilligheid om die beheer oor te gee, gaan bepaal of my “lewensvlug” op ‘n goeie hoogte is, of ek soos ‘n arend bo die lewenstorms kan uitstyg. Ek moet net bereid wees om die “vlerke” van my geloof reg in te stel. Sommer heeldag, aldag, die hele nuwe jaar deur.



Comments


bottom of page