top of page
Writer's pictureMarietjie Joubert

Kom na my toe


Op 27 November 2021 word SA wakker met die nuus dat daar ‘n nuwe variant van die coronavirus is. Dit voel vir my of ek op ‘n ander planeet wakker word. Corona, Delta en Omnikron klink soos ver planete in ‘n afgeleë sonnestelsel. Vriende van Down Under laat weet hulle kan nie meer kom kuier nie. ‘n Dierbare vriendin uit Londen sit gestrand, want sy kan nie terugvlieg na haar gesin nie. Alles klink soos ‘n fliek uit die buitenste ruimte. Op Sondagaand, 28 November, hou ons president ‘n familievergadering en waarsku ons oor die nuwe variant en verwikkelinge.


My hart sak diep in my lyf af. Ek vra vrae oor vakansieplanne, vriende se weersiens en familiekersfees. ‘n Voëlnes begin homself sommer in my kop weef. Daar is ‘n ligte angsdraai in my maag. Ek besluit om die koerant neer te sit en nie verder te lees nie. Ek lê terug op my bed en laat toe dat ‘n effense bedruktheid my oorval.


Sondagoggend luister ek na Pierre, my skoonseun se preek op ekerk. Hy lees uit Mattheus 11:28 en begin met die woorde: “Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is.” My oë skiet vol trane en ek weet, ek is “almal”.


Dit is ongelukkig daardie tyd van die jaar vir ons almal. Kinders skryf eksamen en almal sluit af by die werk en die skool. Ek besef ek kan my nie in hierdie maalkolk laat vasvang nie.


Mattheus se woorde klink weer op in my voëlnes kop! Ek kyk op na die dak van my kamer en weet skielik dat ek weet waar my hulp vandaan kom, waar my krag en sterkte lê en waar ek my bondeljie angs en bekommernis kan neersit.


Al my gunsteling tekste kom in my gedagtes op. Die Here is MY Herder, ek kom NIKS kort nie! Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Romeine 8:18. Ek is oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.

‘n Rustigheid oorval my. Ons het al hierdie pad verlede jaar gestap, ook hierdie jaar. Ons gaan nie ondergaan nie. Ek moet my voëlneskop uitskud en die vere laat wegwaai in die wind. Ek hoef hulle nie bymekaar te hou nie. Ek hoef nie ‘n angsnes te bou nie.


Ek stap deur die tuin en sien al die mooi raak na die wonderlike reën en ek weet vir seker dat Jesus leef, ook in hierdie moeilike tyd.


Dankie, Pierre, vir jou preek en dat jy my laat besef het hoe goed die Here vir ons is. Dankie dat ons volgens Mattheus 11:28 weet dat ons na die Here toe kan gaan en al ons laste daar kan gaan aflaai. Dankie, Here, dat U ons uitnooi om na U toe te kom as ons oorlaai voel en dat U vir ons sal rus gee.


Ek hoop dat hierdie seisoen waarin ons is, vir ons almal ‘n uitnodiging sal wees om ons rus in die Here te vind, dat ons vrede sal ervaar en vir seker sal weet dat Hy ons liefdevolle Vader is. Mag jy dit alles ervaar in hierdie Kersfeestyd.

Comments


bottom of page