Vandag is beter as gister
top of page

Vandag is beter as gister


Lees 2 Korintiërs 4:1


Die Heilige Gees waarborg dat Hy aanhoudend op nuwe maniere in ons lewe sal werk. Elke dag sal beter as die vorige een wees. Gister het ons dalk geen vrugte in Sy diens opgelewer nie. Toe ons vrugte moes dra wat aan Hom eer bring en wat andere se lewens verryk, het ons net suur druiwe gedra. En ‘n groot handvol groen blare. Daarom verdien ons eintlik om uit die Heer se wingerd gekap te word. Die goeie nuus is egter dat die Gees vandag ‘n dag van grasie vir ons bewerkstellig het, ‘n spesiale bonus dag! Vandag is die Here se groot dag in ons lewe. Vandag gaan Hy in ons lewe met hemelse water en die heel beste geestelike bemesting werskaf. Hy gaan ons lewe van ‘n kant af omspit en mooi maak. Kyk mooi, vandag gaan baie anders as gister wees, want daar’s ‘n bordjie langs ons lewe opgerig wat sê dat ons vandag spesiale aandag van die Hemelse Tuinier self gaan kry, die hele dag lank.


Vandag is die Gees se nuwe dag tot verandering en geestelike groei in ons elkeen. Hierdie is die inhoud van God se nuwe genadebediening, wat Hy aan ons toevertrou het. Ons elkeen kan nou op verskillende maniere aan die hand van ons genadegawes van die Gees die Here se lewende weerkaatsers wees. Sedert die Gees se koms, staan ons elkeen in Sy voltydse bediening.


Gebed:

Geloofd sy U Naam, Here, dat vandag ‘n glinsterdag is waartydens U nuwe dinge in my lewe doen. Amen.

bottom of page