Sug saam
top of page

Sug saam


Lees Romeine 8:23

 

Onthou jy nog die groot lesse, wat ons geleer het oor die Gees se werk, toe ons vroeër ook by vers 23 stilgestaan het. Ons het toe geleer dat die Gees God se eerste offer aan ons is. Hy is die eerste vrugte, wat die res van die hemelse oes waarborg. Hy wys dat die orde omgedraai het. Nou offer God aan ons, nie meer omgekeerd nie.

 

Daar is egter nog ‘n ander boodskap in vers 23 verpak, waarby ons nie vroeër uitgekom het nie - dit is dat ons as Christene saam met die skepping sug. Ons kry ook swaar. Ons voel ook pyn. Ons huil en treur oor die sinnelose vernietiging van ons Vader se wêreld, wat eens op ‘n tyd ‘n paradys was. Ons huil as ons hoor dat 22 miljoen mense in Suid-Afrika vandag weer nie genoeg kos gehad het om behoorlik te eet nie, oor 40% van die wêreldbevolking, wat in armoede leef. Ook dat intense armoede in Afrika tussen 1981-2001 vanaf 164 miljoen tot 316 miljoen mense verdubbel het. Ons huil as ons hoor dat 25,000 kinders vandag regoor die aarde vanweë vuil water en onvoldoende medikasie gesterf het. Ons huil as ons hoor dat geld in die wêreld, wat aan luukshede spandeer word, vier maal so vinnig groei as dit, wat uitgegee word om normale behoeftes te bevredig. Wanneer gaan dit alles end kry? Wanneer Geesvervuldes met opstaan en almal saam sê: genoeg is genoeg!

 

Gebed:

Stop die lyding van U skepping, asseblief, Here. Net U kan ons help. Amen.

bottom of page