Hoop teen alles in
top of page

Hoop teen alles in


Lees Romeine 8:24

 

Die lewe is soos ’n padkaart met baie roetes wat kruis en dwars by mekaar verbyloop. Elke mens is aan ’t beweeg. Party jaag teen ’n duiselingwekkende spoed voort op die hoofpad na roem. Andere sukkel voort op die pad van armoede en hoop om iets te ete te kry, voordat die son vanaand sak. Nog ander se lewenspaaie loop op die gladde pad van genot, terwyl party mense se pad weer aan ’t verbrokkel is as gevolg van een of ander ernstige terugslag. Die tragedie is dat vele mense hooploos voortstrompel op hul stukkie lewenspad. Ons wat in die Gees se hande is, het egter hoop, want ons het die toekoms gesien. En dit lyk goed. Ons weet die Drie-enige God is ten nouste betrokke by die wyse waarop ons ons lewenspad aanpak, bewandel en ook voltooi.

 

Jesus het die pad van die lewe gebou; daarom kan Hy ook die “eels” vir padgebruikers neerlê. Hy waarsku ons dat Hy ’n smal pad gebou het wat nie maklik begaanbaar is nie. Plek-plek is die roete baie steil. Jesus het nooit ’n versekeringspolis uitgereik, wat waarborg dat Hy ons in watte toerol en saggies hemel toe lei nie. Inteendeel. ’n Mens beweeg op gevaarlike terrein as jy agter Jesus aanstap, want dit is dikwels ’n pad van spot en verwerping. Daarom stort die Gees hoop in jou hart uit sodat jy enduit kan vasbyt.

 

Gebed:

Heer, ek hoop op U, al lyk alles rondom my tans donker. Amen.

bottom of page