• Marietjie Joubert

Van swaarkry na vreugde


Soms loop die lewe vreemde draaie. ‘n Mens verstaan nie altyd hoekom nie. Die enigste ding waarvan ek seker kan wees, is dat Jesus Christus my redder is.


Wanneer jy voor ‘n geliefde se siekbed staan, worstel jy soms met moeilike vrae. Hierdie vrae het nie noodwendig antwoorde nie. Ek het tot die slotsom gekom dat ek dit nie moet vra nie. Hierdie gewaarwording het toe vir my vrede gegee. Wat help dit ek vra vrae wat nie antwoorde het nie? Dit veroorsaak net meer vrae en bring soms opstandigheid.


Ek het ook in hierdie moeilike tyd agtergekom, dat ek moet fokus op dinge, wat vir my mooi is en wat vir my vreugde gee. Ek stap elke oggend na my cymbidium orgideë buite in die tuin. Ek tel elke plant op en bekyk dit behoorlik. Ek sien nuwe groei raak en soek elke oggend of daar nie dalk ‘n blomknop sy kop uitsteek nie. Ek kyk omtrent die blomknoppe uit die grond uit. Ek strooi kunsmis, verwyder vuilgoed en sny dooie blare uit. Ek soek die mooi in elke plant. As ek dan die blomknoppe gewaar, weet ek, ek was dié jaar suksesvol met die versorging.


Die afgelope naweek was ek by ‘n orgideëskou. Wat ‘n skouspelagtige belewenis! Besonderse kleure en plante is uitgestal, sommige skaars, ander meer bekend. Maar elke plant was ‘n vreugdepotjie, wat gewag om jou te bekoor en bedwelm met skoonheid.


Dan lees ek Matt. 6:27-28. Die Here versorg alles. Die veldlelies bekommer hulle nie een dag oor hoe hulle groei of lyk nie. Hulle is onvoorwaardelik pragtig. In vers 27 hoor ons dat ons nie een dag by ons lewens kan byvoeg deur ons te bekommer nie.


Dit is die belangrikste ding, wat ek in hierdie tyd leer. Bekommernis gaan my nêrens bring nie. Die lewe is kosbaar, maar dit gebeur in God se tyd. Die lewe is kort, want dit loop uit soos die Here wil. Ek kan nie een enkele uur of sekonde by my lewe byvoeg nie, want ek is nie God nie. Paulus leer ons tog in Filippense dat Christus my lewe moet wees en dat sterwe my wins is.


Dit help nie ek vra hoe lank nog nie - God sal op Sy tyd besluit.


Nou dink jy seker: hoekom die cymbidium-storie in die middel van die stuk? Ek moes self deur al die vrae worstel om by ‘n hartsvrede uit te kom. My plante gee vreugde. As ek na hulle kyk en hulle versorg, sien ek deur al die bekommernis en sien iets mooi, wat die Here vir my in hierdie tyd gee. Iets wat ongekompliseerd is. Iets wat eintlik so min vra en tog so oneindig dankbaar met uitbundige vreugde teruggee deur te blom.


Die lewe in die tyd van ernstige siekte kan gekompliseerd wees. Ons mag vrae vra, maar ons gaan nie noodwendig geantwoord word nie. Die Here het Sy eie tyd vir Sy geliefdes se vreugdevolle tuiskoms. Terwyl ons bekommerd daarvoor wag, mag ons nie die ander mooi, wat Hy ook vir ons gegee het, miskyk nie. Ons moet steeds vreugdevol dankbaar bly lewe in Christus se genade.