• Alet Gardner

Vriendskap – ‘n kosbare gawe


Brink en ek is bevoorreg om ‘n persoonlike vriendskapsverhouding met ‘n bekende en geliefde kunstenaar te hê. Haar entoesiastiese aanhangers mag dalk met groot vrymoedigheid vir ‘n selfie saam met haar vra, of ‘n handtekening op daardie flentertjie papier wat iewers in iemand se sak was. Hulle het egter nie die voorreg om, soos ons, genooi te word vir ‘n intieme maaltyd nie.


Net so verskil ‘n intieme vriendskapsverhouding met Jesus van wat eintlik ‘n non-verhouding met Hom is waar ‘n mens van Hom weet, selfs ‘n studie van Hom (en al Sy wonderlike name) gemaak het. Ek kan selfs soms spog dat ek ‘n heerlike ontmoeting met Hom by ‘n lekker gospel-konsert gehad het. Dis egter nie dieselfde as ‘n intieme vriendskapsverhouding, waar ek gereeld alleentyd saam met Hom spandeer nie, tyd waarin ek so na aan Hom kom dat Sy karakter in my begin weerkaats.


Dis tog nie eintlik moontlik om hierdie vriendskapsverhouding met Jesus te hê, as ek nie tyd saam met Hom spandeer nie – “kuier”-tyd, “gesels”-tyd, waar ek ‘n tweerigting gesprek met Hom het. Dis waar ek as’t ware “inklim” in Sy Woord (die Bybel) en oop is vir die sagte stem van die Heilige Gees. Waar ek my hart voor Hom oopmaak, sodat Hy geleentheid het om my tereg te wys, te bemoedig, of raad te gee.


Om so ‘n verhouding te hê, beteken dat ek gereeld tyd sal maak daarvoor, omdat dit vir my so belangrik soos asemhaal is. Ek wil tog nie deur nie tyd te maak vir Hom (met Hom), hierdie verhouding te laat “afkoel” nie. Soms gaan so ‘n “kuier” saam met Hom my juis toerus om groot oorwinnings deur die res van die dag te behaal, maar dit kan ook net ‘n geleentheid wees, waar ek nader aan Hom groei, waar ek meer en meer soos Hy begin dink en optree. Dis waar ek verander word deur die vernuwing van my denke (Romeine 12:1-2).


Dan het my verhouding met Hom waarlik waarde. Dan is dit ‘n “vriendskapsverhouding” waarin ek groei om al hoe meer soos Jesus te word, om soos Hy te dink en op te tree.