top of page

Ek kry arms vol krag by God


“Africa is a tough country,” sê een van my skoonseuns spelenderwys vir sy eenjarige dogtertjie, wat pas begin loop het, as sy struikel en val. Ons kan daaroor lag, maar die waarheid is dat die lewe “tough” en moeilik is. Op hierdie oomblik is Rusland besig om die Oekraïne binne te val, petrolpryse styg, werk is skaars en mense kry emosioneel swaar. Rondom my is daar baie mense, wat sonder hoop is. Teen my spieël is ‘n bordjie wat sê: “Hope is the only thing stronger than fear.” Hoe behou ‘n mens hoop in vandag se lewe?


So ‘n paar Sondagmiddae gelede was ek ‘n bietjie op moedverloor se vlakte. Behalwe vir die gewone Sondagmiddag-“blues”, was ek bekommerd oor ‘n paar dinge en het boonop hope werk gehad om te doen. Uit die bloute kry ek toe ‘n stempos van ‘n pastoor en sy vrou, waarin hulle net vir my sê dat die Here my op hulle harte gelê het en dat hulle vir my bid. Net daar het my gemoed gelig, want die Here sien my raak en mense tree vir my in. My omstandighede het nie dadelik verander nie, maar met ‘n baie ligter gemoed, kon ek toe doen wat van my verwag word. Ek het weer hoop gekry.


Boonop lees ek toe die volgende dag Psalm 62 uit Die Boodskap. In Psalm 62: 6-8 lees ek:


Ek het vir myself gesê: Word rustig by die Here.
Om by Hom te wees gee vir my hoop. Hy beskerm en red my.
Hy is soos ‘n wegkruipplek, waar ek veilig is.
Daarom sal niks my onderkry nie.
Vir my is dit ‘n groot eer om God se hulp te kom vra.
Ek kry arms vol krag, wanneer ek voor Hom staan met my probleme.

Uit Psalm 62 leer ek, dat as ek naby aan die Here lewe, Hy vir my hoop sal gee. Ek leer ook dat niks my sal onderkry in hierdie moeilike lewe, as ek by God skuil nie. Is dit nie wonderlik om te weet dat ons arms vol krag kry, wanneer ons vir God vertel van ons probleme nie?


Terwyl dit nou Paastyd is, het ons as Christene rede om te hoop. Ons dien immers ‘n Here, wat opgestaan het uit die dood. Die leë graf is vir my ‘n simbool van hoop. Ons dien ‘n lewende God, wat sondes vergewe en ons so lief het, dat Hy Sy Seun gestuur het om vir ons sondes te sterf. Ons omstandighede gaan dalk nie makliker word nie, maar ons kan uitsien daarna om eendag saam met God in die hemel te wees. Terwyl ons nog hier op aarde is, kan ons ook in ‘n verhouding met die Here vrede in ons harte hê.

コメント


bottom of page