• Alet Gardner

My woorde: bou ek op of breek ek af?


Kleintyd het ons graag in ‘n maatjie se autograph-boekie geskryf:

Sticks and stones may break my bones but words can never hurt me.

So het ons onsself probeer wysmaak dat harde, kritiese, spottende woorde ons nie sou raak nie. Ons was só ver verkeerd!


‘n Paar dekades later weet elkeen van ons óf uit persoonlike ondervinding óf die ondervinding van iemand na aan ons hoe ligsinnige, veroordelende of kritiese woorde jare later steeds ‘n sensitiewe “litteken” of selfs ‘n wond in ‘n mens se lewe kan laat.


Salomo het gesê: Die regverdiges bring lewe deur hulle woorde. (Spreuke 10:21a NLV)


Ek kan werklik lig en lewe bring in iemand anders se lewe deur opbouende, bemoedigende woorde.


“It is difficult to contend with the proposition that the world would be a better, kinder place if people took the time to say nice things to one another more often. And yet, for an act so simple and easy that would increase the well-being of everyone involved, why do people refrain from doing it? Why don’t people give more compliments, particularly to those whom they do not know well?” *

Woorde kan ‘n waardevolle instrument wees. Dit kan ook ‘n effektiewe wapen wees. Wanneer ek in ‘n argument betrokke raak of wil vertel hoe ongelukkig of verontreg ek voel, kan ek met kwetsende, vernederende woorde slae uitdeel OF ek kan kies om die gesprek as ‘n bouperseel te sien. Ek kan kies om nie aanstoot te neem oor die optrede of opmerkings van die ander persoon nie, maar met respek en opbouende woorde iets van Jesus se karakter in my lewe en optrede sigbaar laat wees. Dit beteken natuurlik dat ek nie enige bitterheid en gevoel dat ek veronreg is, kan vertroetel nie. Ek moet dit maar so gou moontlik vir die Here gee, Hom vertrou om my te help om met my woorde te bou en nie af te breek nie.


Arnold Mol leer dat ons eerder ‘n gesindheid moet hê van “Kom ons wen saam.” Kom ons bou saam, met opbouende woorde. Paulus herinner ons juis in Efesiërs 4:29 “… praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.” (AFR83)


* Professor Vanessa Bohns en ‘n groep navorsers in Sosiale Sielkunde aan die Cornell Universiteit, VSA.