Van bekering een tot bekering twee (deel 1)
top of page

Van bekering een tot bekering twee (deel 1)


My eerste bekering was belangrik, léwensbelangrik. Maar my tweede bekering is lewenstransformerend. Die eerste een, toe ek kop-aan-Kop in Jesus vasgeloop het, het my bevry van my eie verlorenheid. Toe het Jesus oor al my skuld geskryf: AFBETAAL. Van toe af het geglo dat ek die ewige lewe het.


DIE PROBLEEM: Bekering een het my status voor God verander, maar dit het nie my dag tot dag lewe te veel beïnvloed nie. Ek het eintlik net godsdienstig geraak. Ek onthou nog hoe ek al my “rock ’n roll”-plate weggegooi het en hoe ek ’n sondekenner van formaat geraak het. Ek het almal vermaan, vasgevat en na die hel versend. Ek was geen plesier om mee saam te leef nie. Genadiglik het bekering twee toe aangebreek. Dit was toe ek besef het ek, met my godsdienstigheid en al, maak weinig impak vir Jesus!


Bekering twee het my oë oopgemaak vir die God van verhoudings. Van toe af het ek verskuif vanaf ‘n professionele kerklike na ‘n gewone volgeling van Jesus. Na my eerste bekering het ek gedink die enigste manier om die Here te dien, is om “voltyds” vir Hom as ‘n dominee te werk. Bekering twee het my van hierdie idee bevry. Dit wat ek reeds vanaf dag een was, naamlik ‘n voltydse volgeling van Jesus, maak sedertdien al hoe meer sin en realiseer genadiglik ook meer en meer. Nou snap ek dat ek voltyds in God se diens is en dat dit niks te make het met my beroep, of my werksure nie.


Bekering twee is die Here se pad, wat my verander vanaf ‘n geestelike fixer in iemand, wat doelbewus in Jesus se Naam aanwesig is. Ja, ek het geleer om doelbewus aan diens vir Christus te wees. Net dit. Ek leef nou met die verwagting dat Jesus mense verander. Daarom dat ek aanhoudend uit Sy pad staan sodat Hy kan doen wat net Hy kan doen, naamlik om mense met Sy liefde aan te raak. Nou is ek slegs ‘n reisgenoot saam met ander op Jesus se pad. Meer as ooit is ek nie skaam om te bely dat ek Hom liefhet nie.


Wat van jouself? Hoe verloop jou bekering?

bottom of page