Kry die regte kwalifikasie
top of page

Kry die regte kwalifikasie


Toe ek een keer deur Facebook blaai, kom ek op ’n "suggested post" af, oftewel 'n advertensie, wat vertel hoedat jy deesdae 'n PhD kan verwerf vir jou bydraes tot die mensdom. Nou ja, ek het al met indiwidue te make gehad wat "be-doktord" geraak het via oorsese universiteite, wat sulke kwalifikasies per spoedpos weggee. Dan wonder ek by myself: is sulke kwasi-nagraadse kwalifikasies so belangrik dat sommige kerklikes hulle gewete hiervoor sal rek?


Dink ons mense het groter geloofwaardigheid as ons met “groot” titels kan spog? Of het ons Jesus se woorde in Matteus 23 vergeet dat sy volgelinge nie hulle identiteit moet vind in sulke aanspreekvorms nie. Ons het net een Here as Leermeester. Ons het net een Vader in die hemel, voor wie ons buig. Aardse geestelike leiers is ewe veel Sy diensknegte as wat ander gelowiges is. God trek niemand voor nie. Hier dink ek aldag aan my oupa wat standerd 6 (of graad 8 in vandag se taal) agter sy naam gehad het. Hy was my rolmodel, my held en my padwyser na die Here toe. Hy het die heel hoogste kwalifikasie gehad, wat enige mens ooit hier op aarde ooit kan hê: die Here se wysheid! My oupa het die lewende God met eerbied gedien, soos wat Spreuke 1:7 sê. Hy het geweet hoe om die regte ding op die regte tyd te sê en om ’n hart vir mense in nood te hê. Sy nederige leefstyl het luidkeels vertel die Here is Sy Herder. Ek wil soos hy wees. Ek wil die Here, wat mense met Sy genade en wysheid versier, met oorgawe dien.

bottom of page