Vader, liefdevolle Vader!
top of page

Vader, liefdevolle Vader!


Lees Romeine 8:16

 

‘n Teks, wat ‘n mens tot stilstand moet ruk, is Romeine 8:15. Hier deel Paulus die jongste aanspreekvorm vir God met ons. Nou is God so naby dat ons Hom nie elke keer op Sy ander amptelike name, waarvolgens Hy wêreldwyd bekend is, hoef aan te spreek nie. Nee, ons het nou ‘n spesiale liefdesterm, waarmee ons Hom ook mag aanspreek: Abba! Die Heilige Gees self maak dit moontlik dat ons so intiem met God mag praat. Hy roep dit oor en oor in ons harte uit. Hy is ons nuwe voorbidder. Nee, Hy is nou die bidder hier vanuit ons eie harte!

 

Hierdie woord waarmee die Gees tot God roep, Abba, is ‘n Aramese term, waarmee kinders na hul pa’s verwys het. Die dissipels het dit ook vir hul leermeester of onderdane vir hul koning gebruik. Dit druk tegelykertyd respek en intimiteit uit. Foutiewelik verstaan baie mense dit as “pappa.” Dit is nie korrek nie. Paulus self vertaal abba hier met vader, nie met ‘n bestaande Griekse woord vir pappa nie. Abba kan ook vertaal word met “liefdevolle Vader.” Hierdie woord druk ons groot respek vir God uit, maar ook die wete dat Hy baie naby aan ons is. Hy is ons Vader-God. Hy is die Een wat alle mag in die heelal het, maar Hy is ook die Een, wat afbuig om ons wonde te verbind en die hare op ons kop te tel.

 

Gebed:

Abba, Vader, dankie dat U naby en groot is. Amen.

bottom of page