God se kinders
top of page

God se kinders


Lees Romeine 8:14

 

God se kinders - dis hoe almal genoem word wat deur die Gees gelei word. Godskinders! Wat ‘n eretitel. Wat ‘n naam. Te veel van ons het so gewoond daaraan geraak om neerhalend van onsself as sondaars, mislukkings, sukkelaars en wat nog alles te praat. Ons ploeter op moedverloor se vlakte rond. Ons kamp gedurig in middelmatigheidvallei uit. Dalk gebeur dit omdat ons te min van onsself dink. Gelukkig dink God nie so min van ons nie. Hy praat nooit so negatief van ons soos wat onsself dikwels doen nie.

 

Die Gees is so trots op Sy spesiale werke in ons lewens dat Hy ons kinders van God noem. Hy noem ons nie meer sondaars nie, maar God se eie kinders (1 Johannes 3:1). Ook noem Hy ons nie daardie ander immergewilde term in die kerk: “begenadigde sondaars” nie, want ons is dit ook nie. Ons is begenadig ja, maar definitief nie meer sondaars nie. Ons doen nog sonde, maar die term sondaar is ‘n statusterm, wat verlorenheid in God se oë aandui. Dít is ons beslis nie meer nie. Oral waar die woord “sondaar” in die Nuwe Testament gebruik word, verwys dit eksklusief na mense, wat verlore is en God se redding broodnodig het. Wanneer Hy ons red, verwyder Hyself daardie lelike sondaarsetiket van ons. Dís genade! Dís die waarheid uit die Woord. Glo dit onverdund.

 

Gebed:

Dankie vir die eretitel “kind van God”. Dankie, Here, dat U my so eer. Amen.

bottom of page