Gee dit gif
top of page

Gee dit gif


Lees Romeine 8:13

 

Ons leef in ‘n wêreld wat ons gedurig bombardeer met keuses. Skakel jy die TV aan, is daar oor die 50 kanale om van te kies en te keur. Tussendeur maak die internet se derduisende webblaaie en al die nuwe waardesisteme, wat die wêreld in jou keel afdruk, jou keuses glad nie makliker nie. Hoe weet jy wat is reg en wat is verkeerd? Hoe maak jy goeie keuses tussen al die opsies, waaraan jy heeltyd blootgestel is? Jy benodig ‘n paar eenvoudige riglyne vir jou lewe, wat op God se Woord geskoei is. Ek praat van een of twee kernwaarhede uit ‘n teks, soos Romeine 8, wat sê dat die drie-enige God in jou woon en dat jy Hom met daad en woord moet verheerlik. Dan gebruik jy elke keer hierdie waarhede as uitgangspunte, wanneer jy jou keuses in die lewe maak.

 

‘n Eenvoudige vraag soos: “Sal my keuse my help om God te verheerlik en ander nog beter te dien, of nie?” sal bepaal of ek my tyd en energie aan iets gaan wy en of ek dit gaan systap. ‘n Eenvoudige, maar lewensveranderende waardestelsel uit die Bybel vereenvoudig my daaglikse keuses regtig met ligjare. Terloops, het jy so ‘n Gees-gedrewe waardestelsel in plek in jou lewe? Laat Hom dan toe om al jou sondige dade en foutiewe waardes gif te gee. Kies die regte waardes tot God se eer en sien wat gebeur!

 

Gebed:

Skryf U hemelse waardes vandag opnuut diep in my hart, Heer. Amen.

bottom of page