Twyfel hoort by Jesus
top of page

Twyfel hoort by Jesus


Ek twyfel aan my geloof.” Jy gaan dit dikwels hier in 2023 hoor. Maar wag, dit is nie net ’n probleem, wat in hierdie nuwe jaar by ons gaan wees nie. Johannes, die Doper, het homself ook kort voor sy eie dood hier bevind. Hy is in die tronk gegooi, omdat hy die heerser van Galilea, Herodes Antipas, openlik gekritiseer het oor sy sondes. Sy lewe was oor en verby. Daar in die dodesel het hy gewonder oor sy eie geloof en oor Jesus. Maar toe maak Johannes sy probleem Jesus s’n. Dit was sy beste besluit ooit. Matteus 11 vertel naamlik vir ons hoe Johannes sy dissipels na Jesus toe gestuur het met die groot twyfelvraag in sy hart: “Is U die Messias, of moet ons ’n ander een verwag?”


Wat ‘n dilemma! Johannes die doper, wat deur Jesus self as die grootste profeet van Israel beskryf is, bevind homself hier op geloof-verloor-se-vlakte. Maar Jesus skryf hom nie af nie. Hy verban nie vir Johannes daar en dan na die oorvol tehuis vir gewese gelowiges en ontnugterde geestelike leiers nie. Inteendeel, Jesus sê vir Johannes se dissipels om dadelik die regte feite met hom te gaan deel. Hulle moet vir Johannes vertel wat hulleself self sien en ervaar, naamlik dat God se koninkryk met krag gebeur en dat die evangelie armes se lewens aanraak. Dan voeg Jesus ook by dat elkeen, wat hierdie goeie nuus glo, geseënd is. Hulle is gelukkig en bevoorreg in God se oë.


Twyfel is nie veronderstel om jou lewenslange beste vriend te wees nie. Dit is ’n behandelbare toestand. Twyfel is nie kronies nie. Of ongeneeslik nie. Spreek twyfel egter vroegtydig aan, anders verander dit dalk in terminale ongeloof. Volg Johannes se voorbeeld. Maak vanjaar jou twyfel Jesus se probleem. Leer vir ander om dieselfde te doen. Twyfel hoort by Jesus. In Sy nabyheid is daar altyd genade én genesing te vind. Hanteer jou twyfel reg, dan leef jy ook as ‘n geseënde van die Here.

bottom of page