top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Vang hulle as hulle val


Lank gelede, op 17 Oktober 1938, het die bekende Time Magazine vertel van ’n man, genaamd Joseph Figlock. Hy was ’n straatveër in Detroit, Michigan, wat nie minder nie as twee keer deur ’n vallende baba getref is. In 1937 het dit die eerste keer gebeur, toe ’n baba vanaf die vierde verdieping van ’n gebou geval het en bo-op hom beland het. Die baba en hyself het dit oorleef. In 1938 het ’n tweejarige seuntjie, genaamd David Thomas, ook uit ’n gebou geval en nogmaals bo-op Figlock beland. Ook hierdie keer is die baba se lewe gered deur hierdie menslike kussing, wat op die regte tyd op die regte plek was.


Jesus vertel vir ons in die gelykenis van die Samaritaan ook van ‘n menslike lewensredder, wat op die regte tyd op die regte plek was. Terwyl die godsdienstiges skaamteloos by ’n man, wat deur rowers aangerand is, verbygestap het, het hierdie Samaritaan langs hom tot stilstand gekom. Dadelik het hy hierdie man versorg en op sy rydier gelaai. Hierna het hy hom teen sy eie koste na ’n herberg geneem. Nee, die Samaritaan het dit nie in sy eie dagboek beplan om daardie dag iemand anders se lewe te red nie. Dit het onverwags gebeur. Maar toe die Here op sy knoppie druk, was hy daar op die plek aan diens. Sonder om te dink, het hy ’n vreemdeling in nood gehelp. Die rede? Die Here se hart van medelye het in die Samaritaan se binneste geklop. Hy kon eenvoudig nie anders nie.

Comentarios


bottom of page