Dis nie sommer net ophou glo nie
top of page

Dis nie sommer net ophou glo nie


Nee, jou geloof is nie so broos soos wat sommige mense jou wil laat glo nie. Ek praat nou van diegene wat gedurig wil ophou glo as moeilikheid iewers op die horison begin saampak. Dan is God volgens hulle skielik onregverdig, liefdeloos en ver. Miskien moet ons almal by Job gaan leer. As daar een persoon is wat swaarkry vanuit alle hoeke geken het, dan’s dit juis hy. In ‘n oogwink het lyding hom vanaf die heel rykste na die armste man in die Ooste verander. Boonop het Job al sy kinders aan die dood afgestaan. Tog het hy God nooit gelos nie.


Ja, Job was by tye baie kwaad oor sy onregverdige omstandighede. Hy het dikwels ook in die openbaar arm gedruk met God. Maar elke keer het Job weerloos teruggeval in sy Vader se arms. Hy het God gedurig in die oog gekyk en reguit vir Hom gesê dat Hy nie so maklik van hom, wat Job is, ontslae sou raak nie. Moeilikheid sou hom nie uit God se hand ruk nie. God het dit raakgesien en Job geseën. Ek dink dis hoe Geesvervuldhheid in die praktyk lyk. Dit maak jou geestelik taai. Dit laat jou in die geselskap van hemel en aarde regop staan met die belydenis op jou lippe en in jou lewe dat niks of niemand dit sal regkry om jou jou geloof in God te laat prys gee nie.


Gebed:

Laat ek by Job leer om vas te byt deur alle swaarkry, Here. Amen.

bottom of page