Terwyl ons weer leer hande was, leer ons nuwe dinge oor ons geloof
top of page

Terwyl ons weer leer hande was, leer ons nuwe dinge oor ons geloof


Wie sou kon dink dat 2020 die jaar sou wees dat ons weer sou moes leer om behoorlik hande te was? Of dat “social distancing” die nuwe wagwoord sou word op almal se lippe? Binne ’n paar weke het die ganse wêreld suid gedraai. Alles maak toe: kerkbyeenkomste, sportbyeenkomste, kunsfeeste, die Passiespele in Oberammergau… Hollywood het ophou films maak. Bekende motorfabrikate het ophou karre bou. Baie vliegtuie het ophou vlieg. Besighede staan toe. Restaurante ook. Mense is in-huis.


Niks sal gou weer na “normaal” terugkeer nie. Selfs kerkwees het anders begin gebeur. Vir die eerste keer in gemeentes se geskiedenis is samekomste op Sondae tot stilstand gedwing. Daardie standaard uitdrukking wat meeste mense se geloof in ’n een-lyner saamgevat het: “ek gaan kerktoe…” is skielik onvanpas. Vroeër was gereelde kerkbesoek die bewys van kerklike betrokkenheid; nou nie meer nie. Nou moet geloof anders gebeur. Nou moet dit ook digitaal gebeur. Dit wat lankal reeds ’n voldonge feit is vir die jonger digitale generasie, naamlik dat ’n groot deel van die werklikheid op sosiale media afspeel, is nou almal se voorland. Om by te bly met die nuwe realiteite van ons COVID-19 wêreld, moet jy nou gekonnekteerd wees. Jy moet aanlyn wees.


Op innoverende maniere het baie gemeentes begin om dienste op Facebook, Youtube en ander platforms te plaas. Of om dit lewendig te “stream.” Skielik is terme wat ’n dekade gelede gereeld in akademiese gesprekke oor die ontluikende digitale wêreld gebruik is, naamlik “online religion” en “religion online,” feite. Wie weet, dalk bring hierdie nuwe tyd ons almal ’n paar treë nader aan die essensie van geloof soos wat die Nuwe-Testamentiese Christene dit beoefen het. Hulle het nie amptelike geboue gehad vir samekomste nie. Of voltydse personeel nie. Hulle geloof het in woonhuise gebeur. En in die alledaagse lewe. Kleiner samekomste van gelowiges was die plekke waar onderrig en geestelike opbou gebeur het. Tussen ander mense het hulle hul geloof elke dag uitgeleef. Miskien is dit tyd dat ons weer Handelinge ernstig lees. En Paulus se briewe. Dan raak ons geloof weer vars, Nuwe-Testamenties vars, bedoel ek!

bottom of page