Ompaaie is goed vir ons groei
top of page

Ompaaie is goed vir ons groei


Ek en my vrou ry nou die Sondag terug na ‘n naweek weg. Ons ry gereeld dié pad. Die rit neem gewoonlik bykans twee en ‘n kwart uur op die pad. Ons weet nou al dat wanneer ons op die snelweg naby ‘n sekere afrit is, is die huis slegs twintig minute weg. Ons was moeg en wou regtig net by die huis kom, toe ons skielik gedwing word om af te draai van die snelweg en met ‘n ompad weer terug te keer na dieselfde snelweg. Dít was op sigself alreeds ‘n teleurstelling. Dis egter nie al nie. As deel van die ompad moes ons deur ‘n voorstedelike buurt ry. Toe ons egter ewe onskuldig dié buurt binnegaan, sien ons dit: toue karre, wat staan weens dooie verkeersligte. Beurtkrag! Die effek is toe, dat in plaas van om binne twintig minute by die huis te kom, arriveer ons toe ‘n hele uur later as verwag.


Ek dink toe aan wat ek al self baie gepreek het: ons hier in Afrika moet enige iets verwag as ons ons varkies wil behou. Verwag ompaaie en geniet hulle. Dit help nie om elke keer in stomme verbasing en ontnugtering hande in die lug te gooi en tekere te gaan nie. Ek besef toe ook dat ek geheel en te veel in my eie gemak en roetine vasgevang is. Ek gaan baie meer buigbaar en geduldig moet raak. Ek weet beurtkrag vind as gevolg van wanbestuur plaas. Dit ís so, maar ons weet dit mos nou reeds. Gaan ons nou elke keer van voor af ‘n vloermoer gooi en ons siel vergiftig?


Ek kom ook agter dat baie mense al so gewoond aan iets geraak het dat hulle uiterlik geduldig met die omstandighede saamgaan, terwyl hulle aan die binnekant kook en smeul van woede.


Om Jesus op die troon te sien, behels ‘n paar belangrike kopskuiwe aangaande ‘n plek soos Suid-Afrika:

  • Verwag enige iets. Hierdie is Suid-Afrika. Die meeste mense hier het nie Westerse waardes nie, veral nie in terme van tyd nie. Alhoewel dit ons frustreer, is dit nie noodwendig verkeerd nie.

  • Om vrede te maak en enige iets te verwag, beteken nie ons keer die korrupsie en wanbestuur goed nie. Dit beteken ook nie dat ons nie probeer help en regmaak nie. Dit beteken net dat ons in vrede met God leef en dat hierdie vrede in vredevolle verhoudings met Suid-Afrika en al sy mense en omstandighede moet uitdrukking kry.

  • Geniet die ompaaie. Wanneer jy verras word deur ompaaie, waaraan jy niks kan doen nie, help dit nie jy konformeer slegs uiterlik en sit nou maar in die verkeer, terwyl jy innerlik middelvingers na Eskom gooi nie. Laat die omstandighede in ons land toe om onvolmaak te wees. Ons is nog nie in die hemel nie. Wees genadig.

  • Wanneer jy ‘n bydrae kan maak om dinge verbeter, doen dit. Dis goed. Ek is egter nie so seker of die uitsorteer van beurtkrag só hoog op die Here se agenda is nie, ten spyte van al die ongemak en skade. Ek het ongelukkig heeltemal te gemaklik geraak om my eie voorkeure en begeertes blitsvinnig te vervul, sonder enige uitstel. Dit maak my aanmatigend oor die spoed waarteen ek dink dinge moet beweeg. Dit is dalk waarom ons verhoudings so arm is, want ons beweeg nie meer teen die spoed van verhoudings nie. Miskien is die Here veel meer hierin geïnteresseerd: dat ek en my vrou ‘n ompad neem, terwyl ons die wêreld se tyd het om diep te gesels oor dinge, wat werklik saak maak.

Dit help nie ons sing Sondae liedere van God se liefde en kners ons tande Maandag op die pad nie. Iemand, wat in vrede met God, homself en ander leef, sing op die pad ook, in die verkeer, op die ompad in ‘n vreemde buurt, tydens beurtkrag.

bottom of page