Avatar: The way of water
top of page

Avatar: The way of water


Ek is nie besonder lief vir 3D-flieks nie. Hulle maak my gewoonlik moeg en gee my ‘n kopseer. Met Avatar: The way of water was dit egter anders. Die vervaardigers het iets met hulle rekenaargrafika reg gedoen, want my brein het nie moeg daarvan geword om die beelde netjies te hou nie.


Nie almal is lief vir Cameron se reuse Smurfie-flieks nie. Die spesifieke fantasie-wêreld is vir hulle te vreemd om te aanskou of hulle in te dink. Ongeag of jy die inwoners van Pandora en hulle weë geniet of nie, was daar drie spesifieke boodskappe in die storielyn, wat ons ook op geloof van toepassing kan maak.


1. ʼn Radikale verandering of nuwe begin is altyd moontlik. Die hoofkarakters van die fliek moet trek. Ek het verwag dat dit net ʼn rukkie van die storie sou behels en dat hulle spoedig weer “huis toe” sou gaan. Dit het egter nie gebeur nie. Die nuwe blyplek het hulle nuwe woonplek geword. Dit het my gedagtes geneem na God, wat reeds die vroeë kerk se mense oor groot areas laat versprei het. Dit was moeilike omstandighede. Tog het dit ons geloof laat floreer.


2. “Inkommers” sluit soms nuwe moontlikhede oop. Met die betrokke gesin, wat intrek by ʼn ander stam met ander gewoontes, is hulle aanvanklik maar stief behandel weens hulle onderontwikkelde vaardighede. Maar mettertyd kom almal agter: die nuwelinge bring ook nuwe maniere van doen saam met hulle. Gelowiges kan maklik gereed wees om nuwelinge so gou as moontlik sover te kry om dinge te doen “soos ons dit nog altyd hierlangs gedoen het”. Die uitdaging is egter om oop te wees vir wysheid en kreatiwiteit, wat soms so saam met die inkommers opdaag. Ons is tog oopgestel vir die werk waarmee die Here in ons lewens besig is. Sê nou maar net die “nuwe mense” leer ons juis wat ons nóú moet ontdek?


3. Jonger mense is soms gidse vir ouer mense. Daar is ʼn emosionele oomblik in die fliek wanneer die jonges letterlik die oueres se lewens red. Diep onder in die donker water bring die een kind lig saam met haar. Sy ken die ontsnaproete. Haar ouers kan haar vertrou en volg. Sy het ʼn manier na buite gevind, waarvan hulle nie geweet het nie. Nogtans het sy in ander fasette van die lewe hulle raad en wysheid nodig gehad. Ek het gedink dat dit nogal besonders is. Oud en jonk het mekaar nodig. Nuwe maniere van leef en doen ontstaan vandag. Daardie nuwe maniere kom sommer maklik vir jongmense, want dit is deel van die wêreld waarin hulle grootword. Hulle het egter steeds wysheid en omgee nodig wanneer dit by ander fasette van die lewe kom. Hoe sal dit nie wees as gelowiges voortdurend by mekaar kan leer nie? Hoekom moet ouderdom en ou gewoontes ons blokkeer om nuwe dinge te leer?


Al drie hierdie dinge neem my gedagtes tot by die brief van 1 Petrus. Dit is aan ʼn groep gelowiges, wat ontwrig is en oor ʼn groot gebied versprei is, geskryf. Die skrywer wys uit dat nuwe dinge moontlik is, al is jy op onbekende terrein. Die lesers hoor ook by hom wat dit beteken om in nuwe omstandighede hulle geloof tussen vreemdelinge uit te leef. Laastens is die oproep om oop te bly vir God se nuwe toekoms, baie duidelik.


Ek wonder heimlik of James Cameron dalk 1 Petrus gelees het?

bottom of page