Wat op, moet af: Lewe op die berg is tydelik
top of page

Wat op, moet af: Lewe op die berg is tydelik


ʼn Berg is ʼn fantastiese natuurverskynsel, wat gebore word uit ʼn magtige sameloop van omstandighede. Die majestueuse Himalajas, byvoorbeeld, is gevorm toe dele van die aardkors teen mekaar geskuur het. Dit het veroorsaak dat die aarde uitgebult en gebuig het. Dink net aan die onaardse gekraak en magtige vertoning, die rotse wat onder geweldige druk bo die aarde uitgestulp het en die lug in gewerp is om net weer met ʼn slag op die aarde terug te val en deel te word van ʼn wonderwerk.


Dis geen wonder dat God in al Sy mag en glorie op verskeie geleenthede op berge aan mense verskyn het nie. Noag het met die ark en al op die Araratberg geland, waar God sy volgende opdrag gegee het. God het op Sinaï die Tien Gebooie aan Moses oorhandig en Jesus is op ʼn hoë berg deur die duiwel versoek. Jesus Christus is op ʼn berg verheerlik en Hy het ook baie tyd op die Olyfberg spandeer, vanwaar Hy, in die teenwoordigheid van Sy dissipels, teruggeneem is na die hemel.


Wat het al hierdie voorvalle op berge in gemeen? Wie op, moet af!


Noag en almal en alles saam met hom is teruggestuur na die aarde om vrugbaar te wees en baie te word. Moses moes weer terug na ʼn balhorige volk om nog vir baie jare in die woestyn rond te swerf. Jesus Christus het na Sy versoeking op die hoë berg teruggekeer na die wêreld om Sy bediening in alle erns te begin. Boonop moes dit sekerlik vir die drie dissipels wonderlik gewees het om in heilige omstandighede die verheerliking van Christus te aanskou, maar hulle moes weer bergaf. Tydens die hemelvaart het hulle tog ʼn duidelike opdrag ontvang: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels.” En alhoewel Jesus Christus vanaf ʼn berg opgevaar het na die hemel, het Hy belowe om weer met die wederkoms terug te kom.


ʼn Bergmoment is ʼn lewensveranderende ervaring, waar ek tyd in God se teenwoordigheid spandeer, waar ek geborge en geliefd voel. Op hierdie noot hoop en bid ons almal dat die wederkoms binnekort sal kom en dat ons, as gelowiges, verlos sal word van die verdorwe wêreld waarin ons lewe.


Maar dit is, helaas, nie hoe dit op hierdie aarde werk nie.


Jesus Christus het ʼn aangrypende gebed vir Sy dissipels gebid: “Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur.”


Ons moet die bergmomente in dankbaarheid koester, maar in dieselfde asem verstaan dat tyd in die teenwoordieheid van God ons energie gee om weer na die wêreld terug te keer en as Jesus se hande en voete te dien.

bottom of page