Tande kners gaan nie help nie
top of page

Tande kners gaan nie help nie


Don’t hate your enemies, it affects your judgment.

So sê Michael Corleoni, Mafia-baas in die derde Godfather-fliek. Hy sê dit aan een van sy kollegas, wat van haat teenoor een van sy vyande gestoom het. Natuurlik moet Corleoni as Mafia-skurk sy spel baie fyn speel, almal rondom hom fyn dophou en sy oë oop hou vir enige vorm van verraad. Indien nie, kan enige iemand hom maklik onttroon en sy besigheid oorneem. Daarom moet hy koud, klinies en berekend wees in die neem van sy besluite. Sy eie voortbestaan en sy familie se beskerming hang daarvan af. Hy weet: wanneer ek kwaad raak of haat, neem ek verkeerde besluite. Slegte emosie is ‘n negatiewe afleiding. Alhoewel hy in ‘n totale ander wêreld met ander waardes as ons leef, dink ek ons kan vandag by hom leer. Trouens, ek wens meer Jesus-volgelinge wil by die godfather leer, voordat hulle op sosiale media of in die verkeer reageer!


Want dit lyk my ons leef deesdae in die era van tande kners. Ek kom agter hoe baie mense met soveel opgehoopte emosies en veral aggressie loop. Of dit nou beurtkrag, swak diens of die verkeer is, dis asof soveel mense se nerfies dun is. Emosies net onder die oppervlak loop hoog. Mooi gelowige mense vertel vir my dat hulle nog die een oomblik glimlag en rustig is en die volgende oomblik geheel en al uit-freak! Meer as dit. As mense regtig eerlik is, sal hulle erken dat hulle eintlik met bedekte haat rondloop. Dalk onbewustelike, ongediagnoseerde haat, maar haat nietemin. As ek die intensiteit van hulle woede of frustrasie waarneem, dan sien ek die haat vlak in hulle oë. Haat teenoor Eskom, teenoor die regering, teenoor sekere politieke partye of sommer net mense op straat, wat foute maak en hulle irriteer.


Wanneer Jesus dus sê dat ons ons vyande moet liefhê en bid vir dié wat ons vervolg, dan is dit meer relevant as ooit. In Romeine noem Paulus dan ook dat ons ons vervolgers moet seën (12:14). Dis eintlik geniale raad, want dis uiters moeilik om iemand te haat, terwyl jy vir hom bid. Let wel, om vir vyande te bid beteken jy bid vir hulle welstand. Op hierdie manier dwing die bid-aksie jou om jouself in hulle skoene te plaas, om jou te probeer indink waardeur hulle gaan. Wanneer jy jou oë uitvee, haat jy nie meer nie.


Vervang dus tande kners met voorbidding vir diegene, wat dit veroorsaak. Dis die Jesus-weg.

bottom of page