Suid-Afrikaners en kollektiewe depressie: Praktiese raad
top of page

Suid-Afrikaners en kollektiewe depressie: Praktiese raad


Ek vermoed dat menige Suid-Afrikaner aan ʼn tipe “kollektiewe depressie” ly as gevolg van ʼn reeks traumatiese ondervindings wat die land die afgelope tyd geruk het. COVID-19, Eskom, beurtkrag en die vrese dat die land in donkerte gedompel gaan word, misdaadsyfers wat konstant styg eerder as om beter te raak, geweldige armoede, hoë werkloosheidsyfers, die benarde politieke situasie en rampe, byvoorbeeld die onlangse tenkwa-ontploffing in Boksburg. Die simptome is heersende en permanente gevoelens van ontoereikendheid, neerslagtigheid, ʼn verlies aan lewenslus, pessimisme, hartseer en hooploosheid. Dan is mense ook nog kwaad, moedeloos, angstig en bekommerd. Ek, byvoorbeeld, is nie werkloos en gaan nie gebuk onder armoede nie, maar tog raak al die swaarkry my op ʼn dieper vlak aangesien ek medemenslikheid teenoor die lyers voel en gebuk gaan onder die sekere wete dat ek nie ʼn oplossing vir dié probleme het nie.


Ek wil graag ʼn paar praktiese, eenvoudige goed lys wat moontlik kan help om die depressiewe gevoelens teen te werk. Ek het al alles gedoen en dit werk vir my:


1. Maak jou Facebook-muur skoon van alle negatiewe mense en bladsye. Dit is aangenaam bevredigend om “vriende” wat floreer op snert, haat, ‘n geteem en onmin vir 30 dae of sommer vir ewig stil te maak. As iemand of iets jou laat voel of jou tande jeuk, is stilte net ʼn knoppie ver. Onthou dat jy mense kan “unfollow” sonder dat hulle dit weet…

2. En stop in Vadersnaam (letterlik bedoel, want dit is tog sekerlik wat God wil hê) die negatiewe gesprekke rondom die braaivleisvuur, wynglase, tafels (wat onder die kos kreun) en teepotte én waar kinders teenwoordig is! Dit is destruktief!

3. Gaan “like” eerder “Good Things Guy” en Brent Lindeque se blaaie op Facebook. Hulle publiseer net positiewe dinge oor Suid-Afrika en jy sal aangenaam verras wees om te sien hoeveel goeie nuus daar wel elke dag beskikbaar is. Deel ook hierdie “posts” en word ʼn saaier van goeie nuus.

4. Probeer om vir ʼn paar dae die nuusmedia te vermy totdat jy voel dat jy dit weer kan hanteer.

5. Dit is baie belangrik om fisies betrokke te raak by ʼn projek wat armoede verlig. Ja, dit is belangrik om geld te skenk aangesien hierdie projekte nie sonder fondse kan funksioneer nie, maar dit is nóg belangriker om jou hande vuil te maak. Christus het vir ons almal ʼn heilige voorbeeld gestel van hoe ʼn mens sonder geld baie welkome verligting kan bring. Alle skole, selfs kwintiel-5 skole in middelklasbuurte, het deesdae voedingskemas vir leerders en hulp hiermee is broodnodig.

6. Maak die volgende sin jou eie: “Ek kan doodeenvoudig nie die omstandighede in Suid-Afrika verbeter nie, maar ek kan een persoon se lewe op ʼn slag verander.”

7. Begin deur breed en opreg te glimlag vir ʼn vreemdeling wat duidelik aan die korste ent van die lewe trek en geniet die manier hoe dit sy of haar hele houding verander. Let dan ook op hoe jou glimlag jóú gemoedstoestand beïnvloed. Onthou dat vriendelikheid ʼn stukkie Goddelike menswaardigheid herstel waar dit weggeneem is.

8. Spandeer tyd in die natuur. Die wêreld, wat deur mense geskep is, is vol hartseer, swaarkry en pyn, maar God se skepping is asemrowend wonderlik. Let op die siklusse en balans, die sirkels en kurwes en die grootskaalse voorkoms van Fibonacci-getalle en die goue verhouding (“golden ratio”) in die natuur.

9. Kry iets om oor navorsing te doen, ʼn onderwerp wat jy interessant vind. As jy nie weet waaroor nie, kan jy dalk sommer by die voorkoms van die Fibonacci-getalle en die “golden ratio” in die natuur begin. Dit is fassinerend en vertel iets van die Goddelike goue draad wat oral deur die skepping, ook die menslike liggaam, vleg.

10. Kweek slaaispruite. Dit klink vreemd, maar is werklik terapeuties en boonop maklik. Die klipharde, oënskynlik lewelose sade begin binne 24 ure uitswel, wortelskiet en groei en binne net 2 of 3 dae word ʼn splinternuwe plantjie gebore. Boonop word slaaispruite as “super food” beskou en dit is heilsaam en lekker. Los kommentaar op die Facebook-plasing en ek sal maklike instruksies aanstuur.

11. Plant! ʼn Mens hoef nie groen vingers, ʼn groot tuin of geld vir kwekerye te hê om te plant nie. Jogurt- of margarienbakkies en deksels werk net so goed. As jy iemand met ʼn tuin ken, sal hulle maar te bly wees om steggies te deel. Om te plant bring ʼn geleentheid om te reflekteer en na te dink oor die menige lewensiklusse en -prosesse waardeur elkeen van ons moet beur.

12. Raak kreatief. Ek probeer altyd in gedagte hou dat ek deur die kreatiewe Skepper na sy beeld geskape is en sy beeld sluit tog sekerlik nie sy kreatiewe karaktertrekke uit nie, of hoe?

13. Pak die deurmekaarste kas in jou huis reg. Ek kan daarvan getuig dat my siel soms so deurmekaar raak dat ek nie weet waar om enigiets in die laaie van my binneste op te spoor nie. Om ʼn kas reg te pak, te orden en die onnodige goed uit te gooi, is vreemd terapeuties.

14. Koop een of twee botteltjies essensiële olies, verdun dit met jojobaolie en ruik daaraan. Laventel, lemoen, suurlemoen, geranium en pomelo is van die goedkoper olies wat by groter apteke te koop is en dit is hemels om daaraan te ruik! Ek glo vas dat God hierdie geure met kreatiwiteit en mense se geluk in gedagte geskep het en dat dit die vermoë het om die simptome van depressie te verlig. Jy is weereens welkom om kommentaar op die Facebook-inskrywing te los en ek sal ʼn resep aanstuur. Neem kennis dat dit wys is om seker te maak of ʼn spesifieke olie veilig is om te gebruik as jy twyfel oor die veiligheid daarvan.

bottom of page