2023: Staan op!
top of page

2023: Staan op!


Dr Koos Greeff, ’n tentmaker predikant by die NG Gemeente, Vredenburg, het onlangs, soos net hy kan, uit Esegiël 1 en 2 gepreek en my brein meer stof tot nadenke gegee as waarvoor ek oor die algemeen kans sien. Hy het spesifiek gepreek oor God se opdrag om op te staan.


Christene hou daarvan om neer te val met hulle gesigte in die grond (God se woorde in Joshua 7, nie myne nie) – letterlik en figuurlik en om verskeie redes. Hier is ʼn paar Bybelse voorbeelde: Esegiël en Johannes het uit vrees neergeval en soos dooies bly lê as gevolg van visioene wat hulle gesien het. Joshua het moed verloor nadat sy manne deur Ai verslaan is en met sy gesig in die grond gaan lê. Saulus het neergeval toe ʼn hemelse lig op hom geskyn het en Jona het hom uit woede onder ʼn skuiling buite Nineve gaan tuismaak. Elia het onder ʼn besembos in die woestyn gaan lê – depressief, bang en moedeloos.


Wat was God se reaksie op die neervallery? “Mens, staan regop!” “Staan op. Hoekom lê jy met jou gesig in die grond?” “Maar staan op, staan regop. Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien.” “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.” Dit is ook nie die enigste gevalle waar mense beveel is om op te staan nie. Dink aan al die wonderwerke waar siekes gesond gemaak is en telkens was Jesus se woorde: “Staan op!”


Wat beteken dit om op te staan?


Dit beteken om die bul by die horings te pak en te lewe. Dit beteken om, selfs in donker tye van moedeloosheid en depressie en al is dit hoe moeilik, die lewe vierkantig in die oë te kyk en aan te beweeg, voetjie vir voetjie. Dit beteken om God se opdrag te verstaan en om sy wil vir jou lewe te soek en ook te vind. Dit beteken om te verstaan dat God ons na sy beeld geskape het en dat Hy wil hê dat ons, soos Christus ons geleer het, nie in vrees vir die onbekende, geweld en dood eerder niks doen of vlug nie. As ek lê, kan ek nie sterk word vir die pad vorentoe nie (die ou mense het hoeka gesê ons gaan horings kry as ons lê en eet...)


Die belangrikste is dat dit beteken dat ek gehoorsaam is aan sy duidelike opdrag: “Staan op!”


Suid-Afrikaners, Christene ingesluit, lê vir verskeie redes, wat ek nie nou hier gaan lys nie, met hul gesigte in die grond. Vrees, moedeloosheid, hopeloosheid en donker vooruitsigte het ons gehoorsaamheid gekelder. Ons val neer, skel, teem, vloek, verwens ander en vlug. Ons vergeet dat ons met ons gesigte na onder nie meer sien dat ons ʼn wonderlike toekoms en doel hier aan die Suidpunt van Afrika het nie.


Dit is dan juis swaarkry en dinge wat verkeerd en onregverdig is, wat die meeste geleenthede skep om God se hande en voete te wees!


Dink net wat sal gebeur as Christene in 2023 besluit om gehoorsaam te wees, op te staan, in beweging te kom en God se opdragte net hier in Suid Afrika uit te voer!


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page