WSJD – ‘n armbandjie of ‘n leefstyl?
top of page

WSJD – ‘n armbandjie of ‘n leefstyl?


Grootwordtyd was ek met ‘n liefdevolle pa geseën. Etenstyd saam met ‘n gesin van sewe kinders was selde stresvol. Ten spyte van die feit dat hy nie fênsie en gesofistikeerd was nie, het hy van goeie tafelmaniere gehou. Ek onthou goed hoe hy, wanneer my tafelmaniere nie na wense was nie, net my oog gevang het en soms net sy kop geskud het. Omdat ek hom so lief gehad het en ‘n gesonde ontsag vir hom gehad het, het ek met graagte myself dadelik beter gedra.


Jesus, wat my Meester is, in wie se diens ek staan, is goedheid verpersoonlik. Hy het Sy Vader se goedheid kom demonstreer – ‘n goedheid van onbeskryflike diepte, van suiwer egtheid. As ‘n dissipel van Jesus is dit my verantwoordelikheid dat my geloof en my lewe ook sal getuig van ‘n goedheid met substansie – dat my geloof nie ‘n candy floss (”spookasem”) geloof met bitter min substansie sal wees nie.


Jakobus verduidelik so mooi dat Abraham se geloof eers werklik substansie gekry het toe dit by doen gekom het, toe hy in lyn met sy geloof opgetree het. Dis belangrik om nie net te glo nie, maar om ook te dóén. My optrede, my voorbeeld, het ‘n effek op ander. Daarom is dit so belangrik dat ek, wanneer ‘n medepadgebruiker my grensloos irriteer, myself sal afvra: “Wat sou Jesus in hierdie geval doen?” Insgelyks sal ek met ‘n hart vol meegevoel dit, wat ek het, deel met ander wat minder bevoorreg is. Ek sal gereeld bydra tot die plaaslike voedselbank, van my kosbare tyd en energie opoffer om iemand, wat huis- of bedgebonde is, se dag ‘n bietjie op te vrolik.


As ek daarop ingestel is om Jesus se “oog te vang” (na die sagte influistering van Sy Gees te luister), gáán dit ‘n effek op my gesindheid en my gedrag hê. Ek sal onbewustelik gelei word deur die slagspreuk: WSJD – Wat sou Jesus doen? Wat het Hy my deur Sy Woord geleer? Ek sal onthou van die voorbeeld, wat Hy vir my gestel het. (Johannes 13:3-5; Filippense 2:5-8)


Daar mag natuurlik situasies kom. waar ek glad nie kans sien om Jesus se voorbeeld te volg nie, óf omdat ek nie van die persoon hou nie óf hom glad nie kan verdra nie. Dalk is dit in situasies, soos hierdie, dat ek myself moet afvra:

“Wat sou ek vir Jesus doen?”


bottom of page