“Stop and smell the Roses”
top of page

“Stop and smell the Roses”


“You do not need to know precisely what is happening, or exactly where it is all going. What you need is to recognise the possibilities and challenges offered by the present moment, and to embrace them with courage, faith and hope.” - Thomas Merton

Deesdae raak ek, soos baie ander, soms vasgevang deur lang te-doen-lysies en fone wat 24/7 inbreuk maak op my aandag. Dan kan my gedagtes ook so maklik die loop neem, met die gevolg dat ek opeindig in die verlede met al sy onvervulde drome en onafgehandelde sake. Dis natuurlik dinge waaraan ‘n mens niks meer kan doen nie. Of erger nog dwaal my gedagtes af na bekommernisse oor die toekoms. Dit veroorsaak dat ek dít wat ek hier en nou moet doen of kan geniet, afskeep. Dit stroop vandag van sy vreugde en sy vertroue in God.


Eerder as om innerlik gejaagd te wees, te tob oor die verlede en bekommerd te wees oor die toekoms, kan ek eerder fokus op die beloftes van God, wat hierdie oomblik en vandag vir my sinvol maak. Ek kan stil raak voor Hom. Bewus raak van reuke, geure en geluide om my, die wind deur my hare, die son op my vel. Die skoonheid van die blomme in my tuin waardeer en, as ek met ‘n koppie koffie voor my sit, dankbaar wees daarvoor, die reuk en smaak daarvan geniet. Dan kan ek hierdie oomblik van rus en refleksie geniet en weet ook dít is ‘n geskenk uit Sy hand.


Om nie innerlik gejaagd te wees nie en die meeste van hierdie oomblik voor my te maak, gaan egter oefening verg.

“Om elke gedagte gevange te neem om dit aan Christus gehoorsaam te maak.” (2 Korintiërs 10:5 AFR83).

Om in alles dankbaar te wees (I Tessalonisense 5:18) – ook vir hierdie oomblik, hierdie dag - die dag wat die HERE gemaak het. (Psalm 118:24)


God het geweet dat ons groter vreugde sal hê as ons ons seëninge tel, ongeag ons omstandighede. Dat dit in die klein alledaagse oomblikke van die lewe is, waar ons vreugde en dankbaarheid kan vind. Maar dan moet ons dit bewustelik koester en dit nie verby ons laat glip nie. Soos die gholfspeler, Walter Hagen, in sy outobiografie ons herinner:

You're only here for a short visit, so be sure to smell the flowers along the way."

Matteus 6:34: “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”
bottom of page