Vrygewigheid is liefde in aksie
top of page

Vrygewigheid is liefde in aksie


Die uitgesproke en toegewyde Victoriaanse filantroop, barones Angela Burdett-Coutts is op 21 April 1814 in Piccadilly, London, gebore as die jongste van ses kinders. Op die ouderdom van 23 het Angela haar oupa Coutts se fortuin geërf (sowat £200 miljoen vandag) asook die beheer van Brittanje se mees gesogte bank, Coutts. Angela, nou die rykste vrou in Engeland, het besin oor wat om met haar fortuin te doen. Sy was 'n diep gelowige vrou en het besluit dat die Here hierdie geld in trust by haar geplaas het sodat sy, soos die Goeie Herder, Sy skape kan voed (Johannes 10:1–21). En dit was inderdaad wat sy gedoen het.


Angela het haar talente en kundigheid gebruik en die bank, Coutts, self bestuur. Dan het sy ook groot bedrae geld gegee om die armes op te hef, veral in die ooste van London waar groot armoede geheers het, deur geld te gee vir nuwe hospitale en kerke. Sy het ook skole en huise gebou. Sy het haar eie organisasies oor sake waaroor sy passievol was, gestig, o.a. vir die opheffing van vroue, wat in prostitusie verval het, en ook om wreedheid teenoor kinders en diere te beveg. Alhoewel dit nie presies bekend was hoeveel sy oor die jare geskenk het nie, word haar donasies op ongeveer £350 miljoen in vandag se geld geraam!


Koning Edward VII het hierdie vrou, wat haar talente, gawes en kundigheid vrygewig aangewend het in die ondersteuning en bestuur van verskeie ondernemings en komitees, so beskryf:

After my mother she is the most remarkable woman in the kingdom."

Om vrygewig te gee en vrygewig te leef, gaan meer as net oor geld of donasies gee. Vrygewigheid kan en moet egter verskeie vorms aanneem, anders sal kerke en ander Christen-organisasies, wat staat maak op vrywilligers, nie ‘n bestaan kan maak nie. Ons kan vrygewig wees met ons talente, met ons komplimente, vrygewig met ons liefde, tyd, energie, met ons gasvryheid en vrye tyd. Vrygewig met my geduld en liefde vir mense, wat ek moeilik vind, vrygewig met tyd om behoorlik na iemand te luister.

Vrygewigheid is liefde in aksie en ‘n direkte uitvloeisel van my verhouding met my Hemelse Vader – hoe meer intiem en lewend my verhouding met Hom, hoe meer gaan my oë, my hart én my beursie vir sake, wat na aan Sy hart lê, oopgaan. Alles wat ek het – my werk, talente, gesondheid, tyd, ens. – is immers deur Hom by my in trust geplaas om in Sy Koninkryk aan te wend.


Paulus herinner ons: “Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees.” (2 Korinthiers 9:11 - 1983 vertaling)

My uitdaging is om ook soos Angela te besef:

You can give without loving but you cannot love without giving” Anoniem
bottom of page