Waardes en beginsels
top of page

Waardes en beginsels


Ek het die afgelope tyd ‘n paar vreemde belewenisse gehad. Ek het nie besef dat ‘n mens in die moeilikheid kan kom as jy by jou beginsels staan nie. As onderwyser kom ‘n mens daagliks met baie leerders in kontak. Wanneer ‘n mens oor waardes en beginsels praat, ontstaan daar heerlike gesprekke. Mag my ma my foon nagaan. Mag my ouers sien wat my webgeskiedenis is of op watter internetwebblaaie ek rondkuier.


Ek dink soms sommige ouers is so besig om soos helikopters bokant hulle kinders te vlieg dat hulle nie besef goeie waardes en norme vlieg saam met die helikopter weg nie. Ouers vergeet kinders moet uit hulle foute leer. As jy verkeerd doen, dan moet jy die verantwoordelikheid vir jou dade neem. ‘n Oortreding is teenoorstaande aan straf en dan vra jy verskoning en sê jy is jammer oor wat jy gedoen het.


Hierdie beginsel is maar skaars. Dit lyk vir my dat as kinders vandag oortree, die onderwyser eers verdag gemaak word, voordat daar na enige rede geluister word. Die opvoeder trek aan die kortste end. Ek weet dit is nie in alle gevalle so nie, maar dit is ‘n gewaarwording, wat kommerwekkend is.


In die week hoor ek van ‘n interessante artikel, waarin wetenskaplikes en opvoeders verwys na natuurlike speel. Wanneer kinders toegelaat word om te speel, foute te maak en natuurlik leer dat jy moet jammer sê as jy dalk jou maatjie stamp, dan leer die hulle dit natuurlik aan. Vrye sosiale interaksie, wat nie deur volwassenes beheer word nie, is dan die natuurlike leerproses.


As jy ‘n jong mamma of ouma is, wat hierdie lees, laat julle kinders speel, want in speel leer ons natuurlike sosiale vaardighede aan. Ek leer om met ander oor die weg te kom, al is hulle anders as ek. Ek leer om ekskuus te sê as ek iets verkeerd doen, want anders sal die maatjies nie meer met my wil speel nie. Dis in hierdie oomblikke wat mammas net moet terugstaan en die kind laat leer.


Ons leerders sukkel met hierdie beginsel. Hulle kry swaar om te sê hulle is jammer. Ek skakel eerder vinnig my ma dat sy namens my kom baklei by die skool, al is ek verkeerd.


Om te kan sê jy is jammer, is ‘n broodnodige lewensvaardigheid vir die sukses van alle toekomstige verhoudings. As jy jou huweliksmaat seermaak, moet jy opreg kan sê dat jy jammer is om die verhouding te herstel.


Leer jou kinders hierdie beginsel. Dit is so noodsaaklik vir suksesvolle verhoudings. Daarmee saam gaan sondebelydenis. Die Here vergewe ons elke dag. Ons begin elke môre nuut in Sy teenwoordigheid. Dis is kosbaar om te kan erken jy het ‘n fout gemaak. Gryp hierdie beginsel en lewensvaardigheid weer opnuut in jou lewe aan en leef daarvolgens. Leer jou kinders en kleinkinders dat dit goed en reg is om verskoning te vra, want dit is die sleutel tot goeie verhoudings.

bottom of page