Soms is daar eenvoudig nie goeie besluite nie
top of page
  • Writer's pictureekerk

Soms is daar eenvoudig nie goeie besluite nie

deur Roedolf Botha

Roedolf Botha skryf in sy nuutste My Wêreld nuusbrief oor hoe ons as gelowiges moet dink in die COVID-19 tyd.
Soms is daar eenvoudig nie goeie besluite nie

Ek is al so moeg vir almal se opinies, insluitend my eie. Elke dag op sosiale media deel mense hulle wyshede links en regs uit. As daar een ding waaroor ons almal beskik is dit opinies. Hier is daar geen tekort nie. Opinies oor dit en opinies oor dat. Iets het nog skaars gebeur of ons het ‘n opinie daaroor. Omdat wesens met intelligensie dink oor dinge, kritiseer ons ook maklik en aanhoudend. Ons kritiseer veral besluite wat ander mense neem. Ons kritiseer veral vandag die regering, politieke partye, medici en nog meer. Hoekom neem mense nie ordentlike of goeie besluite nie, so voel ek baie kere. Soms kruip die arrogansie in my op en dink ek as hulle my net sou vra sou ek ‘n baie beter besluit kon neem. Alhoewel nie alle besluite wat die afgelope tyd geneem is deur ons regering en ander instansies ewe veel getuig van logiese konsekwentheid of nugterheid nie, kan ons nie stry dat meeste leiers hulle bes probeer nie. Meer as dit: daar is iets wat ons moet besef aangaande die aard van besluite in die soort van tyd waarin ons leef.


Sommige kenners beweer dat die aard van die impak van Covid-19 op ons ganse samelewing vergelyk kan word met iets soos ‘n oorlogsituasie. ‘n Persoon wat ek goed ken – wat baie goed vertroud is met die trauma van noodtoestande soos oorlog of Korona – het een keer vir my gesê dat daar in oorlogstyd geen goeie besluite is nie, maak nie saak hoe opreg, moreel die besluitnemers is, of hoe hard hulle probeer nie. Indien hulle na die een kant toe besluit, word sekere mense, of sekere sektore van ‘n samelewing erg negatief geaffekteer. Indien hulle na die ander kant toe besluit, word ander individue of sektore weer negatief geaffekteer. Nee, daar is soms geen goeie besluite nie. Nie in ‘n tyd soos hierdie nie.


In noodsituasies is daar dikwels slegs beter besluite of slegter besluite. Goeie besluite wat vir alle partye ewe voordelig gaan wees is nie altyd moontlik nie.


Dis die harde realiteit. ‘n Jesus-volgeling hoef nie altyd saam te stem met alles nie. Trouens ons moenie saam stem met alles nie anders verloor ons ons profetiese stem. Wat ons egter wel moet doen is om soms eenvoudig tevrede te wees met onvolmaakte leiers. Maar ons moet terselfdertyd ook tevrede wees met die feit dat hulle nie in hierdie situasie noodwendig altyd die beste besluite gaan neem nie. In sulke tye soos hierdie is goeie besluite so skaars soos hoendertande. Aanvaar dit.


Dit beteken nie dat ons nie ons leiers moet help dink nie. Dit beteken ook nie dat ons in ons tevredenheid moet agteroorsit en kyk hoe dat ander droogmaak terwyl ons kon help nie. Dit beteken nie dat ons nie ons leiers moet help interpreteer, en aan hulle die nodige kommunikasie rig nie. Nee, dis ‘n aktiewe tevredenheid. Dis soos Paulus wat sê (1 Tim 6: 6-8):


Die godsdiens is ‘n groot aanwins as iemand tevrede is met wat Hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons kos en klere het moet ons daarmee tevrede wees.


Paulus se bedoeling dat ons nooit enige aansprake kan maak nie. Niks behoort immers aan ons nie. Hierdie is God se wêreld. Om soms tevrede te wees en nie aanspraak te maak op perfekte besluite deur ons leiers nie, is deel van hoe ons Jesus volg. Ons is tevrede ongeag wat. Dit maak ons nie blind vir die negatiewe, sosio-ekonomiese effek van sekere besluite op sommiges nie. Nee, ons sien dit raak en ons werk hard aan die vooruitgang van die land. Ons daag ons leiers uit op ‘n respekvolle manier. Ons moet altyd probeer om beter te wees en ander ook motiveer om beter te wees. Maar wanneer dinge nie die pad loop wat ons graag wil hê nie dan eis die Goeie Nuus van Jesus dat ons tevrede sal wees daarmee. Die Here is steeds aktief aan die werk en ons kan elke dag kies om by Hom aan te sluit.


Ons hoef dus nie ons lewens op te hou soos in ‘n wagkamer tot die lockdown verby is en leiers eendag weer beter besluite neem nie.

bottom of page