Nog ‘n realiteitstoets
top of page

Nog ‘n realiteitstoets


Ek sien onlangs ‘n kort video’tjie, gestuur deur ‘n diep gelowige persoon, wat nou weer die nuutste sonde van Hollywood probeer ontmasker. Hierdie kort video wys hoe daar in ‘n nuwe animasiefliek valse herskeppings van die tuinverhaal in Genesis as die waarheid voorgehou. Die persoon, wat dit aan my gestuur het, was erg omgekrap hieroor. Nadat ek self die video gekyk het, besef ek dis inderdaad valse voorstellings van geestelikheid, die Bybel en van die mens, wat in die video voorkom. Die stuurder dring egter toe daarop aan dat almal daarvan bewus gemaak moet word en die hele kerk gewaarsku moet word. Veldtogte moet geloods word. Daar moet nie hieroor stilgebly word nie. Mense moet wegbly van die teaters af. Hierdie ding moet gekeer word. Ontsteltenis. Pandemonium.


Wel, hier is mý ontsteltenis. Ek raak ontsteld, wanneer gelowige mense oor alles ontsteld raak asof elke stukkie euwel uniek is. In watter wêreld het hulle dan gedink leef ons? Die realiteit is: Ons leef nie in ‘n Christelike wêreld nie. Jesus-volgelinge leef egter wel binne-in die Christelike storie, maar dis juis hierdie Jesus-storie, wat vir ons leer dat ons sulke ongerymdhede moet verwag. Die wêreld was nog altyd die wêreld. Niks het verander nie. Dit het nog altyd leuens, verdraaiings en valshede voortgebring. Dit het nog altyd narratiewe gefabriseer wat sy eie sonde en eie belang pas. Dit help nie ons slaan in koue koors uit elke keer wanneer ons ‘n leuen teëkom nie. Dit help nie ons gaan lê in angs in ‘n fetusposisie elke keer wanneer ons sien dat Hollywood iets produseer wat na die hel ruik nie.


Die fout lê veel eerder by my en jou. Ons en ons kinders ken nie meer die Bybel nie. As ons die Bybel goed sou ken, sou sulke dwalings en valse verhale ons geen skade berokken nie. Trouens, Christene het nog altyd deur die geskiedenis die heidense mites van die Grieke gelees, of die sprokies uit die Middeleeue, of sekulêre letterkundige werke, of bloedige stukke geskiedenis (ek dink byvoorbeeld aan Jesus-volgelinge, soos CS Lewis en GK Chesterton). Hulle geestelike lewens is egter nie daardeur vernietig of besmet nie. Hulle goeie begrip van die Bybel was hulle teenfoeter teen slegte invloede. Vreemde stories hoef ons nie aan te tas en opnuut te ontstel nie. Ek sê nie ons moet alle gemors kyk nie. Inteendeel. Ek sê ook nie dat ons nie bose dinge moet teëstaan nie, maar ek verstaan nie die skok, verbasing en ontsteltenis nie.


Die antwoord lê beslis nie daarin om al weer die indruk te skep dat Christene teen alles is nie, maar om veel eerder ons Bybels so goed te ken dat ons valshede en leuens van ver af kan sien aankom. As jy die waarheid goed ken, kan jy die leuens met gemak afweer. Die wêreldse kultuur tree nog altyd maar net volgens sy eie aard op. Dit sal altyd so wees. Ons moet eerder ‘n veldtog loods teen die oppervlakkige lees van geïsoleerde Bybelversies en ‘n veldtog begin om die Bybel van hoek tot kant, in groot hoeveelhede, in te neem, te verorber, te lees, te eet en te slaap.


Leuens sal eers stop, wanneer Jesus weer kom.


Tot dan leef ons met die onderskeiding wat grondige, Geesgegewe en deurleefde Bybelkennis ons bied.


En ons sing Christus se vreugdeslied in ‘n vreemde land.

bottom of page