Ons hoop is op die kleintjies!
top of page

Ons hoop is op die kleintjies!


Ek kyk nou die dag ‘n fliek waarin ‘n klein, nietige en onbelangrike mensie sê: “I know exactly what to do. I’m just too afraid to do it.”

Hierdie persoon se wyse vriendin het toe gelukkig die teenwoordigheid van gees gehad om net hierdie eenvoudige antwoord te gee: “Even the smallest person can change the course of history.”


Hoe waar is dit nie in die koninkryk van Jesus nie! Jesus leer ons dat dit die kleintjies is wat in Sy nuwe wêreld belangrik is, die kindertjies, die mosterdsaadjies, die armes, die onbekendes, die moeders wat kinders grootgemaak het, die onsigbares, die straatveërs, wat hulle geloof uitgeleef het, die bedelaars wat vir Jesus geleef het. En ons. Enige iemand, hoe gering ook al, kan ‘n enorme verskil in die werk van die Here maak. Eendag, wanneer ons by die Here is, gaan ons mense se name leer ken, van wie ons nog nooit gehoor het nie. Ek is oortuig daarvan.


Weet jy wie’s Robert Eaglen? Ek het ook nie. Tot ek ontdek het dat hy die groot Britse prediker van die 1800’s, Charles Spurgeon, tot geloof gebring het. Spurgeon het uiteindelik duisende, derduisende mense se lewens aangeraak en ‘n groot impak gemaak, omdat iemand met die naam Robert net sy deeltjie gedoen het.


Weet jy wie’s Mordecai Ham? Dis die persoon wat vir Billy Graham aan Jesus voorgestel het. Billy het later die mees bekende reisende spreker geword, wat die meeste mense ooit in persoon toegespreek het.


Mary Litogot? Sy was die moeder van die gelowige motorvervaardiger, Henry Ford. Ford vertel hoe hy nooit sonder sy ma se inspirasie en geloof sou kon doen wat hy gedoen het nie. Later het hy gesê: “I have tried to live my life as my mother would have wished. I believe I have done, as far as I could, just what she wished for me.”


“Even the smallest person can change the course of history.” Jesus sê dis waar.


Voel jy klein? Jesus sê dis reg. Wat is die klein dingetjie, wat jy vandag gaan doen?


God self sal dit laat vrug dra, of dit groot of klein is.

bottom of page