Liefde is méér as empatie
top of page

Liefde is méér as empatie


Ek voel al ‘n geruime tyd effens ongemaklik met sekere tendense in ons samelewing, veral met betrekking tot die opvoeding van ons kinders. Ek het egter nooit presies verstaan waarom nie. Die ouers aan wie ek dink, is uiters empatiese ouers en ek was (en is!) nog altyd ten gunste van empatie. Toe leer ek nou die dag ‘n nuwe term by Stella O’Malley, ‘n Ierse kindersielkundige. Sy praat van die tendens van toksiese empatie by vandag se ouers!


Volgens O’Malley raak empatie toksies, wanneer iemand empatie ontvang, terwyl hulle eintlik iets anders nodig het. Soms is wysheid en leiding eerder nodig as nog empatie. ‘n Mens kry dit veral by vandag se “hovering” ouerskap, of helikopter-ouers, of “drone”-ouers, soos wat dit soms bekend staan. Dis ouers, wat soos ‘n helikopter, emosioneel om hulle kinders “rondhang”. Hulle oorbeskerm die kinders emosioneel tot so ‘n mate dat die kinders nie meer leer hoe om probleme of emosionele ongemak self te hanteer nie. Hierdie ouers is so bang dat hulle kinders nóg slegter gaan voel oor hulleself. Sulke ouers vrees dat hulle kinders nie gaan herstel nie. Aan die een kant is dit seker verstaanbaar met al die druk, wat daar deesdae op kinders geplaas word om te presteer. Hulle jammerte vir hulle kind, of vrees vir hoe die kind mag reageer, veroorsaak egter dat hulle net aanhou empatie toon en nooit ware ouerlike leiding gee nie.


Dis ook oor die algemeen waar vandag. Ter wille van my eie geestelike groei weet ek dat ek beslis soms eerder teregwysing as empatie nodig het. Maak geen fout nie - ek hou daarvan om empatie te ontvang. Soms het ek dit broodnodig. Mense kan egter aan empatie verslaaf raak. Ons samelewing het empatievraatsugtig  en -verslaafd geword. Ons wil niks anders as empatie van mense ontvang nie. Ons is te vol van onsself om soms die waarheid te wil hoor. Ek wil nie hoor dat ek ook ‘n aandeel in die gemors, die konflik, die ongesonde verhouding, die egskeiding, gehad het nie. Ek wil soms nie hoor dat ek nou moet ophou baai in my eie smart, dat ek nou moet opstaan en self inisiatief neem nie. Daarom word toksiese empatie in vriendskappe, kollegiale verhoudings en huwelike gevind. Mense is te bang om mekaar op die regte pad te help, op die waarheid te wys en wyse raad en leiding te gee. Ek noem dit juis wyse raad en leiding en nie ongevraagde, ontydige, oppervlakkige en hoogmoedige preke, wat sommige gelowiges uit die hoogte uit vir ander gee nie. Die hemel weet, ons het reeds genoeg daarvan! Nee, ek praat van liefdevolle, wyse, sensitiewe lewenswaarheid, wat gedeel word, wanneer dít is wat iemand moet hoor. Mense het áltyd liefde nodig. Liefde behels egter méér as empatie. Dit behels ook teregwysing.


Dink maar aan Jesus. Die evangelies sê vir ons dat Jesus Sy mense tot die uiterste liefgehad het, hulle gedien het, voete gewas het, empatie getoon het en tog het Hy hulle nie opgepiep nie. Van die hardste woorde in die Bybel het Jesus vir Sy dissipels gegee. Petrus is met die Satan vergelyk! Die ander dissipels moes ook soms hoor dat hulle geloof te klein is. Die Fariseërs moes hoor dat hulle ‘n addergeslag is, wit gepleisterde grafte vol doodsbeendere! Herodus is met ‘n jakkals vergelyk, die onreinste dier vir die Jode in Jesus te tyd! Jesus het geweet wanneer om empatie te betoon en wanneer om raad te gee, wanneer om Sy mense tereg te wys en wanneer om hard aan te spreek.


Ek weet egter ook dat wanneer ek die innerlike begeerte voel om iemand “op hulle plek te sit”, ek dit dalk eerder moet los. Dan het hulle nie my raad nodig nie. Wat ek wel weet, is dat ék nodig het om dit soms van mense te hoor. Mense het altyd liefde nodig. Ek ook. Maar liefde kom nie altyd in die vorm van empatie nie. Soms het ek ‘n reality check nodig. Dan kom dit in die vorm van woorde, wat kan seermaak.


Die vraag is of ek en jy die volwassenheid het om dit van goeie vriende te kan ontvang, wanneer ons dit nodig het.

bottom of page