Sien jy die arm, hartseer of eensame Jesus raak?
top of page

Sien jy die arm, hartseer of eensame Jesus raak?


Agnes Bonxha Bojaxhiu, ‘n eenvoudige, maer, vroutjie vol plooie, is een van my rolmodelle. Sy is beter bekend as Moeder Teresa, ‘n non, wat in Indië onder siekes, armes en weeskinders gewerk het. Die omstandighede waarin sy gewerk het, was haglik en vuil. Soms het sy honger gely, omdat sy haar kos met die armes gedeel het. Toe iemand haar eenkeer vra waarom sy dit doen, het sy gesê: “Ek sien Jesus in elke mens. As ek iemand sien wat honger is, dink ek ek moet vir hom kos gee. Dit is ‘n honger Jesus. As ek iemand sien, wat siek is, dink ek dit is ‘n siek Jesus. Ek moet hom was en versorg.” Hoekom het sy al hierdie dinge gedoen? Sy was werklik lief vir die Here.


Sien jy Jesus in jou huishulp of tuinman? Sien jy Jesus in daardie bedelaar by jou hek? En ‘n groot uitdaging: sien jy Jesus in daardie kollega, wat jou vreeslik irriteer, maar wat jy weet jou liefde en ondersteuning nodig het?


Die samelewing is deesdae baie selfgerig. Die meeste van ons begeer net die beste kar, huis en vakansies vir onsself. Mark Batterson sê:

We all need to experience a revolution in our own lives. That change happens when we come to terms with the fact that the world doesn’t revolve around us.

Ons is nou in die feestyd en almal dink aan geskenke en luukse Kerspartytjies en Oujaarsfeeste. Jesus was ons grootste geskenk en elke dag kry ons ‘n gratis geskenk van genade van God af. Dit is tyd dat ons nou ander mense en hulle behoeftes moet raaksien en God se genade uitleef. Ons is Jesus se hande en voete hier op aarde. Nou moet ons, soos Moeder Teresa, ons hande vuil maak en ons voorskote aantrek om ander te dien en ander hoër te ag as onsself.


Miskien is dit nou die tyd om te besin oor hoe jy ander kan dien met jou besittings, liefde en tyd. In die liedjie, Meer as genoeg, sing Elvis Blue:

“Dit is net die een wat bereid is om alles weg te gee, wat kan sê ek het meer as genoeg.”

As jy ‘n arm Jesus, ‘n hartseer Jesus, ‘n moedelose Jesus of ‘n eensame Jesus in ander raaksien, deel van jou besittings en gee van jouself. Jy sal verstom wees oor die genoegdoening, wat jy ervaar om ‘n ander persoon se dag te maak.


In Jesaja 58:7 lees ons van geloof, wat oorgaan in dade: Is dit nie om jou kos te deel met die wat honger is, om aan die arme of swerwer blyplek te gee, om klere te gee vir mense wat dit nodig het, om nie weg te draai van medemense wat jou hulp nodig het nie?

bottom of page