Jesus Christus: Vigilante of wetsgehoorsame?
top of page

Jesus Christus: Vigilante of wetsgehoorsame?


Op ’n keer ry Jesus Christus Jerusalem op ʼn donkie binne. Paasfees is om die draai en Hy is op pad na sy Vader se huis.


’n Onaangename verrassing wag by die tempel: Duisende drom saam. Die lawaai is oorverdowend en die gejil en gekibbel maak aanbidding in die voorhof onmoontlik. Wie gee nou om of die heidene kan aanbid of nie? Woekeraars en verkopers verleen ’n vlooimarkagtige atmosfeer en almal is vrolik, in ’n vakansiebui.


Jesus druk deur die swetende skare. Hy ruik minagting, uitbuitery, onregmatige wins en geldgierigheid en dit wat Hy op die tempelplein sien, skok Hom in sy diepste wese.


Hy neem toutjies en gaan sit eenkant om ’n sweep te vleg.


Dan spring Hy op en jaag almal woedend by die tempel uit. Skape en beeste spat uitmekaar en ’n gees van wanorde neem oor. Jesus keer tafels om en geldwisselaars gee verskrik pad. Hokke vlieg oop, vlerke klap en duiwe ontsnap verlig. Vrouens gil, kinders huil en mans vloek woedend. Geld rol die hele plek vol.


Dink jou dit in: die chaos, verbasing en ontsteltenis, die godsdienstige leiers wat uithardloop en geskok toekyk. Dit is tog hulle domein! Is hierdie ou mal?


’n Dag of twee later besluit dieselfde godsdienstige leiers om vir Jesus ’n lokval te stel: “Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of nie? Moet ons betaal of moet ons nie?” Christus antwoord: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”


’n Vigilante is iemand wat in ’n private hoedanigheid poog om wet en orde te handhaaf omdat hy of sy glo dat die leiers tekort skiet. Daarteenoor is ’n wetsgehoorsame burger iemand wat hom- of haarself aan die gesag van die owerheid onderwerp.


Was Christus ’n woedende vigilante of ’n wetsgehoorsame burger?


En gee die reiniging van die tempel ons toestemming om op ’n woedende manier aan vigilante optrede deel te neem? Dit is maklik in Suid-Afrika: Elkeen wéét hoe woede voel. Ons ken die begeerte om wraak te neem, die frustrasies, die briesende trane, die bittere behoefte om iemand of iets skade aan te doen, om reg in eie hande te neem. En met goeie rede: Ons voel dat polisiëring en regspleging by die drein af is, saam met die elektrisiteit.


Ek vra weer: Gee die reiniging van die tempel ons toestemming om as gevolg van ons daaglikse frustrasies op ’n woedende manier aan vigilante optrede deel te neem?


My antwoord: “Nee!” Rob Bell verduidelik: “There is a response to anger that’s essentially all about us. Our pride, our ego, all of the ways we work so hard to prop up and protect and defend our selfish little kingdoms. But that isn’t what’s going on here with Jesus. Jesus has identified himself with an injustice larger than himself. There is something divine about his anger because some things are worth getting angry about.”

bottom of page