Mentors
top of page

Mentors


‘n Mentor loop voor en leer sy / haar leerlinge eerstens deur voorbeeld. Daarom is die Lewis Carroll-aanhaling voor op my dagboekie vir die jaar so gepas: “The best way to explain it, is to do it.”


Mentors speel so ‘n geweldige groot rol in ons lewe en so dikwels is dit nie eens iemand, wat ons self gekies het nie. So was ek bevoorreg om ‘n ouma en ‘n ma te kon hê, wat Bybelse waarhede geleef en geleer het. Vandag kan ek terugkyk en, ten spyte van hulle foute en tekortkominge, sien hoe hulle my lewensuitkyk ten goede beïnvloed het.


Ouma Maria was een van die eerste vroue in haar Vrystaatse dorp, wat motor bestuur het, en het ‘n leidende rol gespeel by die plaaslike debats- en toneelvereninging. Sy het nie net heerlik saam met my klavier gespeel nie, maar was ook later my katkisasie-onderwyseres, wat die Bybel en die kerk se leerstellings vir ‘n tiener kon verduidelik.


My ouers het vir ons Bybelse liefde, eerlikheid en regverdigheid geleer en gedemonstreer. Ma het so met huiswerk saam geestelike liedere gesing en Pa was die een wat ‘n welverdiende pakslae kon afsluit met ‘n troosdrukkie en: “Jy moet asb. nie so stout wees nie – dit maak my net so seer om jou te moet pak gee.”


Later jare se onderwysers en geestelike leiers kon op hierdie basis voortbou. Daar is die dinamiese Christin, wat my uitgedaag om met ‘n Bybelstudiegroep te begin en dit terwyl ek ‘n pap baba gehad het! Die gevolg was dat ek jare van seën beleef het deur ‘n klein Bybelstudie vir vroue te lei. Meer as een Christenvriendin het deur hulle voorbeeld vir my gewys watter vreugde en krag daarin lê om in ‘n lewende verhouding met Jesus te leef.


Dan kan ‘n mens jou net indink watter skade dit doen as ‘n pa selfmoord pleeg of ‘n onderwyser van frustrasie ontplof: “Jy is ‘n nikswerd! Jy gaan nêrens in die lewe kom nie!” Dis tog op die ou end soveel meer vervullend om ‘n moeilike student met woorde én houding aan te moedig en te inspireer om die vreugde van ‘n reis na ‘n sinvolle lewe aan te durf. ‘n Jong vriendin het hier in Londen juis dit gedoen in een van die berugte inner city-skole. Sy het vir die moeilikste seun in die klas gesê: “You can do whatever you like. I have decided that I like you.” Die jongman het sy sokkies opgetrek en teen die einde van sy skoolloopbaan gevra: “Miss, will you come to my graduation ceremony in a few years’ time?” Dit ten spyte van die feit dat hy uit ‘n Moslem-agtergrond gekom het en geweet het dat sy ‘n toegewyde Christen is.


Everyone needs a Paul, a Barnabas and a Timothy in their life.

HIierdie gesegde is so waar. ‘n “Paulus” wat my na die Here toe lei, ‘n “Barnabas” wat my mentor en ‘n “Timoteus” vir wie ek na die Here kan lei en / of kan mentor.



bottom of page