Ses nodige verhoudings vir leierskap
top of page

Ses nodige verhoudings vir leierskap


Transformasieprosesse is moeilik en kompleks om te lei. Dinge blyk nie altyd so eenvoudig te wees soos wat dit van “bo” af lyk nie. Wanneer ‘n mens begin met ‘n strategie van vernuwing, dan is daar gewoonlik verskeie stemme, wat opgaan waarna ‘n mens moet luister. Sommige van hierdie stemme is krities en ander is weer ondersteunend. ‘n Leier moenie net bewus wees van hierdie groepe in jou gemeente of maatskappy nie, maar moet ook in gesprek met hulle wees om seker te maak dat jy so na as moontlik aan die realiteit lei. Tod Bolsinger praat van ses sulke groepe met wie jy in gesprek moet wees. Eintlik noem hy dit ses verhoudings,waarbinne enige leier moet staan. Al ses is belangrik vir ‘n leier om gesond, gebalanseerd en met insig te kan lei.


1. Bondgenote


‘n Bondgenoot is enige iemand, wat uitverkoop is aan die missie van die leier en byna enige iets sal doen om te sien dat dit vervul word. Hulle is gewoonlik deel van die stelsel, neem deel aan die transformasieproses en offer op ter wille van die saak. Hulle is dus in ‘n groot mate belyn met die veranderings, wat gemaak word. Hulle is egter nie noodwendig jou vriende op persoonlike vlak nie (leiers moenie die fout maak om te dink dat alle vriende noodwendig bondgenote sal wees nie). Hulle mag dalk selfs nie jou waardes of redes vir die visie deel nie, maar hulle trek voordeel uit die visie en kan ook die voordeel vir die hele groep sien. Vriende is mense, wat vir jou omgee en lief sal wees, ongeag julle verskille. Nadat vriende teen mekaar gestem het in ‘n vergadering, sal hulle vriende bly.


2. Vertrouelinge


Hierdie is mense, wat meer omgee oor jóú persoonlik as oor die organisasie of die missie. Daarom staan gesonde vertrouelinge dikwels buite die stelsel en kan eerlike terugvoer aangaande jouself as ‘n leier in die stelsel gee. Dis gewoonlik gemaklik en gepas vir sommige familie en vriende om hierdie rol te speel. Hulle ken jou beter as enige iemand anders en kan jou help met insigte rakende jou gesondheid, volwassenheid en selfversorging. Jy kan na vertrouelinge gaan sonder om voor te gee - hulle sal na jou luister en vir jou bid. Waar bondgenote vir jou perspektief bring, bring vertrouelinge bemoediging en ondersteuning. Bondgenote sien jou visie, maar vertrouelinge sien jou hart.


3. Opponente


Opponente is aandeelhouers (emosioneel of finansieel), wie se opinie van joune verskil. Hulle loop ook die risiko om die meeste te verloor as jou visie van transformasie vorder. Hulle is nie vyande nie, net soos wat bondgenote nie noodwendig jou vriende is nie. Hulle is nie soseer téén jou nie, maar gekant teen die inisiatief, wat jy dryf. Hulle sal egter verlies beleef as alles voortgaan – hulle, wat die verlies opponeer, sal jou ook opponeer. Om jou opponente te ken, te respekteer en om kontak met hulle te behou, is krities as jy perspektief wil behou en wysheid wil bekom. Heel dikwels is opponente die katalisators vir nuwe oplossings, wat baie wyer ondersteuning skep.


4. Senior gesag


Niemand funksioneer sonder gesag nie en die grootste entrepreneur-leier rapporteer aan iemand. ‘n Hoof uitvoerende beampte rapporteer aan ‘n raad van direkteure en ‘n predikant aan sy ouderlingeraad of kerkraad. Die manier waarop jy saamwerk met diegene wat bo jou in ‘n stelsel aangestel is, bevorder weer eens verhoudings en kontak. Dis belangrik dat die mense, wat bo jou aangestel is, saam met jou die hitte en dringendheid aanvoel vir die verandering, wat noodsaaklik is. Wanneer daar goeie verhoudinge en verstandhoudinge met die mense, aan wie jy rapporteer, gekweek word, dan deel hulle in die spanning en las, wat jy as leier dra.


5. Ongevalle


Tydens enige transformasieproses, sal daar ongevalle wees. Transformasieleierskap beteken om mense die onbekende in te lei en die onbekende kan nooit sonder risiko aangedurf word nie. Sommige gaan besluit om die proses of die gemeente of die organisasie te verlaat. Dit kan nie altyd verhelp word nie. Dit beteken egter nie dat dit die leier koud laat nie. Inteendeel. Soos enige goeie leier moet hy verantwoordelikheid vir sulke mense neem. Die manier waarop ‘n mens egter verantwoordelikheid neem, is nie om die transformasieproses te stop nie, maar om met empatie na die ongevalle te luister. Hulle moet erken, begelei en ondersteun word in hulle reis na ‘n nuwe tuiste. Waardevolle tyd moet in die proses aan hulle spandeer word en ekstra aandag moet gegee word deur te luister na emosies, wat hulle beleef as gevolg van die verlies.


6. Pretbederwers


Daar is geen transformasieproses, wat kan spog met eenparige ondersteuning nie. Daar sal altyd lede wees wat nee gaan stem vir die proses, ongeag die poging om hulle anders te oortuig. Hulle “pretbederwery” is nie noodwendig opsetlik nie. Hierdie nee-stemme is uiters noodsaaklik tydens elke fase van die transformasieposes. Die mense wat vroeg al nee stem, gee vir mens ‘n baie goeie indruk van hoe die teenstand vorentoe langs die pad gaan lyk. Hulle gee ‘n aanduiding van hoe die argumente later in die proses gaan klink, wanneer die teenstand die luidste is. Hierdie mense vra die moeilike sleutelvrae, wat jy dalk nog nie die dapperheid gehad het om self behoorlik oor na te dink nie. Wees die hele tyd in gesprek met die nee-sê-groep en luister na hulle kommentaar. Hulle kommentaar hoef weereens nie te bepaal of die tranformasieproses reg of verkeerd is nie, maar kan baie wysheid en sensitiwiteit openbaar wat strategies noodsaaklik vir die pad vorentoe gaan wees.


Die heel belangrikste voordeel vir die Evangelie is die ervaring by elkeen van hierdie groepe dat die leier waarde heg aan hulle gevoelens en opinies, soms ten spyte van verskille. Dit moet natuurlik by die leier ook die geval wees dat hy nie bloot hierdie mense in die groepe “speel” vir strategiese of politiese doeleindes nie, maar omdat hy werklik inderdaad deur die liefde van die Here vir hierdie mense lief is en hulle ag as medemense.

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page