Leierskap in ‘n oogwenk
top of page

Leierskap in ‘n oogwenk


Daar is een saak, wat deur bekwame leiers bespreek word, wat deurslaggewend vir goeie leierskap is. Veral in vinnig veranderende tye is dit ‘n eienskap wat broodnodig is, maar wat na my mening, nie veel aandag kry nie. Die voormalige, legendariese Hoof Uitvoerende Beampte van General Electric, Jack Walsch, het dit “edge” genoem. Met “edge” het hy bedoel ‘n natuurlike momentele intuïsie, wanneer dit by besluitneming kom. Soms, in ‘n snelveranderende wêreld, moet ‘n besluit op die ingewing van die oomblik geneem word. Dan is daar nie tyd vir navorsing doen, of vergadering hou nie. Dan moet die betrokke leiers belangrike dinge reeds intuïtief weet. Die besluit moet nóú geneem word. Die beste voorbeeld van “edge”, volgens Walsch, word gevind by verpleegsters wat ingrypende besluite moet neem in ‘n hospitaal se noodgevalle-afdeling.


Hierdie verpleegsters moet bepaal watter pasiënt se nood die grootste is en wie eerste mediese hulp moet kry. Dikwels is daar soveel pasiënte wie se toestand lewensbedreigend van aard is dat dit moeilik is om te bepaal wie eerste aandag moet kry. Nie almal kan tegelyk hanteer word nie, vanweë ‘n gebrek aan plek en mannekrag. Dan het hierdie verpleegsters nie tyd vir ‘n studie, ‘n ondersoek, of ‘n vergadering nie. Die besluit moet daar en dan, op die oomblik geneem word. Soms gebeur dit dat iemand sterf weens byvoorbeeld ‘n skietwond, terwyl ‘n persoon, wat in ‘n ernstige motorongeluk was, voorkeur kry. Dis deel van die dinamika van leierskap, meen Walsch.


‘n Paar jaar later het Malcolm Gladwell die belangrikheid van intuïtiewe besluitneming bevestig in sy boek, Blink. Hierin het hy redelik intensiewe navorsing gedoen oor die akkuraatheid van besluite, wat geneem word deur leiers, wat intuïsie gebruik. Hier is sommige van sy bevindinge:


1. Mense wat begaafd is met leierskapsintuïsie, neem besluite wat net so akkuraat is soos mense of kommissies wat jare lank oor dieselfde saak navorsing doen. Trouens, soms is intuïtiewe besluite selfs méér akkuraat as lank nagevorste besluite. Die leier van ‘n baie suksesvolle opleidingsmaatskappy vertel vir my dat die raad van direkteure die beleid het om nie langer as twee minute te dink, voor hulle ‘n besluit neem oor sekere sake, soos byvoorbeeld nuwe vennootskappe nie. Die rede is omdat daar vertroue is in die ervaring van die mense rondom die tafel.


2. Intuïtiewe besluitneming behels nie uit-die-duim-suig-besluite nie. Wanneer iemand ‘n intuïtiewe besluit neem, beteken dit nie dat hy oor geen kennis oor die saak beskik nie. Trouens, Gladwell beweer dat hoe meer ervaring mense het, hoe beter raak hulle intuïsie. Die meeste intuïtiewe mense het jare se opgestoorde ervaring, waarvan hulle die feite nie bewustelik kan oproep nie, omdat dit weggesteek is in ‘n netwerk van ander ervaringe en emosies. Hulle kan egter wel aanvoel dat hulle weet wat om te doen, terwyl ander dit nie sien nie.


3. Om hierdie rede word intuïtiewe leiers nie altyd (veral aanvanklik) ernstig opgeneem in burokratiese omgewings nie, omdat hulle hul eie argumente nie goed kan verwoord nie. Daarom moet hierdie leiers bemagtig word om soms voor te gaan in die neem van besluite.


4. In sommige gevalle is dit die verkeerdste ding om die saak vir ‘n groep navorsers of ‘n kommissie te gee. Gladwell vertel van die keer toe ‘n hele span navorsers ‘n standbeeld vir twee jaar lank bestudeer het om vas te stel of dit ‘n outentieke antieke kunswerk is al dan nie. Deur die loop van hierdie twee jaar het drie individue, onafhanklik van mekaar, ingeloop, na die beeld gekyk en gesê dis ‘n vervalsing. Niemand het na hulle geluister nie en die kommissie het besluit dat die kunswerk eg is. Meer as ‘n dekade later, toe nuwe insig en feite aan die lig kom, toe blyk dit dat hulle verkeerd was. Die drie individue, wat hulle uitsprake op grond van intuïsie gedoen het, was reg!


5. Sommige mense neem goeie intuïtiewe besluite, nie slegs omdat hulle oor ‘n netwerk van ervaring beskik nie, maar omdat hulle doodeenvoudig beter insig het in sake, beter observeer as ander en maklik deur die fasade van ‘n groep of kultuur kan sien. Vertrou sulke mense en laat hulle voorloop. Dit toon Gladwell se navorsing.


Daar is geen beter tyd as in vandag se VUCA-wêreld (Vuca staan vir Volatile, Unpredictable, Complex, Ambiguous), waar intuïtiewe besluitneming voorrang moet geniet nie. Soveel kerkdenominasies en organisasie is al so geburokratiseer dat daar geen plek vir intuïtiewe besluite is nie. Alles moet deur vergaderings en allerhande red tape gaan. Sulke maatskappye en kerke sal dit eenvoudig nie in ons wêreld, waar dinge vinniger en vinniger verander, maak nie. In so ‘n wêreld kom geleenthede, soos golwe in die see, oor ‘n organisasie se pad. Die kerkleier, Rick Warren, meen hierdie is ‘n beeld, wat die kerk ernstig moet opneem. Wanneer ‘n branderplankryer ‘n golf waarneem, het hy nie tyd om ‘n ondersoek te doen nie. Die golf moet dadelik gery word. So werk baie besluite in ‘n gesonde organisasie ook.

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page