• Liezel Lüneburg

Rassisme: Kaktus in die vrugteslaai


Daar is min dinge so lekker soos vrugteslaai: Mango, papaja, spanspek, kersies, bloubessies, macadamianeute en mintblare, bedruip in tropiese vrugtesap. Voeg nou ʼn paar kaktusse by en meng dit goed en die sappige, stroopsoet vrugteslaai verander in ʼn oneetbare spul op die komposhoop…


Rassisme is ʼn kaktus in die vrugteslaai wat alles vernietig wat waar, edel, reg, rein, mooi en lofwaardig is. Lui die beskrywende woorde ʼn klokkie? Fillipense 4: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” Verder is daar nie ʼn enkele vrug van die Gees wat met rassistiese optrede verbind kan word nie. In teenstelling, groei rassisme uit haat, liefdeloosheid en meewarigheid en bring dit vyandskap, woede, rusies, verdeeldheid en skeuring. As die goeie dinge die “vrug van die Gees” genoem word, is die slegte dinge, wat ook in Galasiërs 5 genoem word, seker die “vrug van die Bose”, of hoe? As rassisme aan die vereistes van hierdie vrugte voldoen, is dit dan seersekerlik boos.


Daar bestaan ʼn geykte, moeë teenargument dat rassisme in die nuwe Suid-Afrika aangewakker word deur “omgekeerde apartheid en rassisme”. Soos die Engelse sê: Hierdie “kite” gaan nie voor God vlieg nie. Romeine 2 bevestig in geen onduidelike terme dat elkeen op grond van sy eie dade geoordeel gaan word en nié op grond van ʼn ander sʼn nie. Daar staan ook nêrens dat ʼn ander se dade as versagtende omstandighede dien nie. Boonop gaan almal op dieselfde vlak voor dieselfde God, onderworpe aan dieselfde stel maatstawwe, geoordeel word.


Inteendeel, Jesus Christus het Hom sterk teen haat en ʼn waan van superioriteit tussen kulture en rasse uitgespreek in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Die Samaritane was van gemengde afkoms en die Jode en Samaritane het mekaar gehaat – dit blyk duidelik uit die wetsgeleerde se teensinnigheid om selfs die woord “Samaritaan” te sê. Ons almal ken die verhaal en die betekenis dat ons barmhartigheid teenoor alle ander persone moet bewys, maar dalk is dit tyd dat ons die gelykenis uit die beseerde se oogpunt sien: Sal ek kieskeurig wees oor wie van watter ras my bystaan as ek beseer, beroof en halfdood langs die pad lê, of sal ek die Samaritaan se hulp met dankbaarheid aanvaar? En as ek bereid is om die Samaritaan se hulp te aanvaar, is dit regverdig om ander Samaritane selektief te haat of met liefde te hanteer, net soos wat dit my pas?


Daar heers ʼn kultuur van rassisme in Suid-Afrika en na behoorlike selfondersoek, is daar maar min wat kan sê dat hulle nie op die een of ander vlak rassisties is nie. Net soos wat vergifnis, liefde en barmhartigheid ʼn lewenswyse en nie noodwendig ʼn eenmalige aksie is nie, is die geveg teen rassehaat ʼn deurlopende stryd. Die enigste teenvoeter is ʼn daaglikse besluit om aan die opdrag in Lukas 10 gehoorsaam te wees: “… en jou naaste soos jouself.” Dit beteken (met dank aan Professor Jan Van der Watt se preek op 24 April 2022) dat ek myself in elke persoon met wie ek te doen kry se skoene moet plaas en teenoor die beeld optree soos wat ek wil hê die ander persoon teenoor my moet optree onder dieselfde omstandighede.


Steeds word anti-rassiste met haat uitgekryt as “liberales” of, nog erger, “libtards”.


Dink jouself ʼn Suid-Afrika sonder rassehaat in of selfs ʼn samelewing waar gelowige Christene optrek teen rassisme. Ons almal strewe tog daarna om Jeremia 17-Christene te wees: “… so iemand is soos ʼn boom wat by die water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ʼn droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie.” As ek dit ooit kan regkry, sal almal onder my boom skadu, rus, vrede, barmhartigheid, hoop en liefde vind, ook lede van ander rasse. Ek sal dalk selfs vir Jesus Christus daar raakloop…


(ʼn Laaste gedagte: Dit is handig om te onthou dat lede van alle rasse min of meer dieselfde lyk as die skelet van klere, vel, weefsel, organe en senings gestroop word.)