Eerste Ervarings
top of page

Eerste Ervarings


Nie alle eerstes is lekker nie. ʼn Eerste see-vakansie, valskermsprong, halfmarathon of musiekkonsert is gewoonlik lekker. Of om jou eie eerste motor vir die eerste keer te bestuur. Natuurlik is dit ook lekker om vir die eerste keer op jou eie die paaie in te vaar nadat jy jou bestuurslisensie gekry het.


Maar die eerste keer wanneer jy by die polisiekantoor in die ry moet staan vir ʼn verklaring oor die ongeluk wat jy veroorsaak het? Dit val in die ander kategorie: “Nie lekker nie.”


Stillerig staan my seun in die vroegoggendskaduwees van die bloekombome by die SAPS-kantoor. Hierdie is vir my óók ʼn eerste: om my kind te begelei tydens sy eerste polisieverklaring. G’n mens beplan ʼn ongeluk nie. Ongelukke vra ook nie vir ʼn goeie tyd in jou dagboek nie. Dit daag op, ontwrig alles en toets almal se verhoudings. Ook die ouer-en-kind-soort.


Uiteindelik kom ek en my seun in die kantoor. Ons moet hande en penne ontsmet en besonderhede in dik boeke skryf. Die vertrek ruik na ou hout en gisteraand se sweet. Uiteindelik is dit ons beurt. Ferm vra die offisier met die kapteinstrepies wat ons kom doen.


“I caused a vehicle accident,” verklaar my seun. Die skerp offisier maak ʼn flou grappie of twee, want hy sien die jongman is ʼn bietjie buite weste. Ek lag saam en maak ook ʼn grappie. My seun se stywe rug verslap effens en hy glimlag weer. Op ʼn stadium moet hy ʼn eenvoudige skets van die ongeluk maak. Hy haak vas, onseker oor waar hy kruisies moet maak.


“Waar presies is die ander voertuig beskadig?” probeer ek. “Dit is wat jy moet aandui,” verduidelik ek. Kaptein hou ons interaksie dop, seker maar om seker te maak ek meng nie teveel in met die verklaring nie. Ons wissel nog ʼn sin of twee en my seun skets dan verder.


“You have your father coming here with you,” sê Kaptein meteens. “I like that. I can see the love between you two.”


Vir ʼn sekonde of twee dink ek die offisier skerts seker weer, want ek voel nie juis liefde hier waar ek moet toesien dat verklarings reg afgelê word nie. Ek voel ook nie besonders liefdevol óf geliefd wanneer ek dink aan die korrespondensie met my versekering hierna nie. So ek gee maar net ʼn flou knik met ʼn ingeoefende glimlag.


My seun skets verder en begin klaarmaak. Uit die hoek van my oog sien ek ʼn druppel spat op die donker hout aan die ander kant van die toonbank. Verbaas kyk ek op. Kaptein staar voor hom uit. Sy wang het ʼn blink strepie op. “I wish my father was here now. But he is not here anymore. What you have, is special. You must treasure him,” maan hy my seun. “Thank you,” sê ek en skrik vir die heesheid van my stem. My seun glimlag breed. “I do,” sê hy. Die ongeluksverklaring word oor die toonbank aangeskuif. Nes ek self ook lank lank gelede moes doen, terwyl my pa langs my gesit het.


Ons almal kry voortdurend steeds eerstes. Eerste verliese. Eerste ernstige siekte. Eerste gewaarwordings van ʼn ouer lyf. Maar dalk is die voorreg dat ons Iemand het wat tydens elke eerste langs ons sit.


Openbaring 1:8: “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.


Dit beteken dat God dieselfde liefde vir ons het en dieselfde trou aan ons bewys, soos nog altyd. Al breek ʼn eerste aan sonder om jou dagboek vooraf te raadpleeg.

bottom of page